Staan saam teen inbrake

LEPHALALE — Inbrake in veral Onverwacht neem geweldig toe, sê kolonel Daniel Ramakgoakgoa, stasiebevelvoerder by Lephalale SAPD.

Volgens kol Ramakgoakgoa beweeg die inbrekers in groepe van drie of vier mense wat toegang tot die huise verkry deur byvoorbeeld deure met ʼn koevoet oop te dwing.

Verdagtes is ook meesal gewapen met onder andere messe en skroewedraaiers.

Kol Ramakgoakgoa waarsku die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir enige verdagte mense in jou straat of buurt en om dit dadelik by die polisie aan te meld.

Hy versoek verder dat mense bedag sal wees daarop om nie gesteelde goedere te koop nie, want dit hou die mark vir gesteelde goedere oop. Inbrekers is veral op soek na plasma-TV’s, selfone en ander elektroniese ware wat ʼn goeie tweedehandse verkoopswaarde het.

“Inwoners moet ook probeer om deur middel van WhatsApp-boodskappe met mekaar in verbinding te wees. Maak seker jy en jou bure oorkant die straat weet wat mekaar se bewegings is. Inbrake gebeur gewoonlik in die nag wanneer die huismense slaap en onkant betrap word, kry vir julle fluitjies wat altyd byderhand is. Praat met jou bure dat hulle ook fluitjies kry. Dit is ʼn maklike manier om te verseker dat iemand gaan weet iets is verkeerd, want die fluitjies moet net geblaas word as daar probleme is,” het kol Ramakgoakgoa gesê.

Volgens hom is die inbraaksituasie in Marapong onder beheer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.