Staatmakers verhuis

LEPHALALE — Rina van Aswegen, of soos sy steeds soms bekend staan, Rina van Rina’s Rentals of Rina van Elanco Matte en haar man, Charel van Aswegen, het besluit om die mooie bosveld vir die mooie George in die Kaap te verruil.

Charel, Rina, Tokkie en Hennie tydens die amptelike oorhandiging Vrydagmiddag 15:00. Almal het saam gebraai, die oue afgesluit en die nuwe begin afgeskop

Rina het haar in 1981 in Ellisras gevestig en is in 1984 met Solly Strydom getroud. Sy was vanaf 1982 tot 1991 in diens van Eskom by Matimba Kragstasie gewees. Gedurende 1994 begin Solly Elanco Matte en sy Rina’s Rentals van hul huis af bedryf. “Soos wat die Here dit vir my in ʼn droom bevestig het, so het dit gebeur”, sê Rina.

Gedurende 2003 verskuif Solly en Rina hul besighede na die ou KSOK-gebou in die ligte nywerheidsgebied wat tans as Roodeberg 60 (Edms) Bpk geregistreer is waarvan Rina, Hennie Kotze van Tune-Up Centre en Johnny Cornelius van Fast Win Hydraulics die direkteure is.

Solly is in 2011 oorlede en Rina het vrou-alleen in vaste geloof met die twee gevestigde besighede aangegaan.

Sy sê hulle was bevoorreg om in die bloeitydperk met die geweldige uitbreidings deel van Lephalale te kon wees. In November 2011 trou Rina met Charel van Aswegen. Terloops, Charel is Zulu vlot magtig.

In 2014 tree hy na 38 jaar diens by Eskom uit en gooi sy volle gewig by Elanco Matte in op bestuursvlak. “Hy is my steunpilaar en sy hulp is van onskatbare waarde,” sê sy. In 2015 verkoop Rina haar Rina’s Rentals-besigheid aan Main Events wat nog steeds vanuit dieselfde perseel besigheid doen.

En nou, na 25 jaar, het Rina Elanco Matte aan Hennie en Tokkie Kotze verkoop. Mense met wie sy al ʼn lang pad kom. “Die besigheid is in goeie hande”’ sê sy. Rina en Charel beplan om aan die einde van die jaar hul eiendom wat hulle drie jaar gelede in George gekoop het, te betrek. ʼn Huis met ʼn groot tuin vir die kleinkinders om in te baljaar. “Maar dis diep wortels wat uitgetrek moet word. Jy los familie en dierbare vriende en kliënte wat soos familie geword het agter, maar ek het die voorreg gehad om my bediening in my besigheid uit te leef”.

Rina was ook vir 24 jaar in kinderbediening betrokke waarvan 22 jaar aaneenlopend by die Agapé-gemeente. “Dit was die lekkerste deel van my lewe in Ellisras en ek gaan dit baie mis”. Tydens die laaste kinderkamp was daar 108 kinders vanaf vyf tot 15 jaar oud wat geestelik bedien is. “My verhouding met die Here was deur al die jare my anker en Hy het deur alle tye, goed en minder goed, voorsien. Die arbeider is sy loon werd en ek het volgens dit geleef, daarom gee ek alle eer aan die Here vir sy groot genade dat ek goed na my werknemers kon omsien.”

Rina sê ook dat hulle alreeds en nog steeds in George vir ʼn geestelike woordgebaseerde tuiste soek waarby hulle kan inskakel en in die bediening betrokke kan raak. Na soveel jaar in besigheid het Rina nie tyd gehad om haar passie vir kuns uit te leef nie, en sy gaan dit nou prioriteit maak om tyd aan skilder af te staan. Sy sê Charel kry solank sy seehengelgerei gereed en die boot staan ook en wag.

Die Bosveld verloor twee geliefde staatmakers. Mogol Pos wens hulle seën en voorspoed toe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.