Stap uit in die bos …

Ria Wells
LEPHALALE — Nuwe vriendskappe is Saterdag 21 Januarie gesnoer tydens Tak Manketti van die dendrologiese vereniging se uitstappie na die plaas Boschpoort van Gert en Anita van Biljon.
Andre van Stryp, “boommeester”, het eerstens verduidelik waarom sekere bome in sekere areas soos suur-, soet- en gemengde veld voorkom. Elke plaas of area het dus indikatorspesies wat die tipe grond identifiseer. Die rede waarom die plaas Boschpoort gekies is vir die uitstappie is juis omdat die plaas oor verskillende tipes grond beskik.
Redes vir grondklassifikasie en tipografie kan toegeskryf word aan oorsake soos reënval, ligging, hitte, aanpasbaarheid van bome, ens. Vaalwater-omgewing met ‘n hoër ligging beskik meesal oor suurveld en omdat water dan daarvandaan ‘n afwaartse vloei toon en minerale saamneem tot byvoorbeeld in die laer dele van die Limpopo, kom soetveld meesal voor.
Aan boomkenners ontbreek dit nie en boomliefhebbers en –entoesiaste wat die uitstappie meegemaak het, het dit terdeë geniet om in die lowergroen bosveld rond te ry en ‘n paar spesifieke bome te identifiseer met interessante feite en redenasies soos byvoorbeeld of jy maagpyn gaan kry as jy tambotiehout gebruik vir braaivleisvuur. Bome onder bespreking was die soetveldbome soos knoppiesdoring, tambotie, wurmbasvalsdoring en knoppiesboontjie. Gemengde grond-bome is die raasblaar, dibkas en mispel en dan die suurgrondbome soos die melkbas.
André van Stryp was die toerleier en ander boomkenners soos dr Willie Barnard, Gert du Plessis (Gert Gif) en Kobus Roux was baie gewillig om hul kennis met die geselskap te deel.
Dié dag is afgesluit met ‘n heerlike braai terwyl nóg boomkennis uitgeruil of sommer net gesellig gekuier is.
Skakel gerus in by Tak Manketti vir uitstappies deur die jaar. Die volgende uitstappie word beplan vir 25 Februarie by Sable Hills. Kontak Marthie Scheepers by 083 609 0181 vir verdere besonderhede.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.