Steeds vermis

Scott van Zyl

Leoni Kruger
LEPHALALE — Scott van Zyl (44), bekende beroepsjagter, geliefde inwoner en eienaar van SS Pro Safaris, was Vrydag 7 April saam met ’n groep buitelandse jagters naby die Chikwaraka-kamp in Zimbabwe toe een van sy honde die veld ingehardloop het voordat hy die GPS-halsband vir die hond kon aansit. Hy het sy spoorsnyer, Lucas, versoek om die spore te volg en die hond te gaan soek.
Volgens GPS-aanduidings is Scott en die res van die honde in ‘n ander rigting, vermoedelik om te gaan kyk of hy nie luiperdspore kry nie. Hy het blykbaar die persoon wat die jagvoertuig bestuur het versoek om hom later op ‘n ander plek te kry. Dié man het op die afgespreekte plek gewag maar Scott het nooit uit die veld teruggekeer het. Sy jaggeweer en selfoon het in die voertuig agtergebly.
‘n Grootskaalse soektog is van Saterdagoggend vroeg af van stapel gestuur om Scott te probeer opspoor. Volgens adjudant offisier Jurg van Heerden, ‘n goeie vriend van Scott, was daar vanaf Saterdagoggend vier helikopters van Suid-Afrikaners in die lug om die gebied te fynkam vir enige tekens van Scott. Die Zimbabwiese polisie en polisieduikers, die SA “Search and Rescue”-diens sowel as lede van die SAPD en SAW, professionele jagters van Zimbabwe en sowat 20 vriende help almal onverpoos om Scott te kry.
Scott se rugsak, GPS en sy stapstok is deur ‘n visserman gekry waar dit in ‘n holte teen kranse by die Limpoporivier neergesit is. Hy het dit aan lede van die soekgeselskap uitgewys.
Teen druktyd Woensdagmiddag 12 April was daar nog geen spoor van Scott nie, tog het sy vriende aangedui dat hulle nie sal ophou soek voordat hulle hom gekry het nie. ‘n Video waar pamflette met Scott se gesig oor die nedersettings aan die Zimbabwe-kant vanuit ‘n helikopter gestrooi word is op verskeie sosiale mediagroep gedeel. Die pamflet beloof ook ‘n $5 000 beloning vir enige inligting wat kan lei tot die vind van Scott of sy liggaam.
Die soekspanne het Woensdagoggend begin om ook onder bosse, klippe of gras te soek.
Mense van regoor die land het fondse geskenk om veral die soektog met die helikopters moontlik te maak en enigiemand wat iets wil bydra kan die webblad gofundme.com besoek vir meer besonderhede. Alternatiewelik kan geld inbetaal word in: LHLF, Standard Bank, rekeningnommer 663390718, takkode 051001. Stuur die bewys van betaling aan Stephanie by 074 042 9240.
Scott se vrou, Sure (41), sy dogter Sanelle (11) en sy seun SH (7) en die res van die familie bedank elkeen wat hulle ondersteun in hierdie moeilike tyd van onsekerheid, asook almal wat fondse geskenk het om die soektog moontlik te maak. “Moet asseblief nie ophou bid nie,” vra hulle.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.