Steenbokpan VLU

Trudie Venter en Surita Steenkamp het albei die kankerpad gestap
Trudie Venter en Surita Steenkamp het albei die kankerpad gestap

STEENBOKPAN — Die lede van Steenbokpan VLU se Oktobervergadering het gefokus op borskankerbewustheid. Twee lede, Trudie Venter en Surita Steenkamp het reeds die pad met borskanker gestap. Trudie is tans in remissie en Surita ondergaan steeds behandeling vir borskanker en daarom was hulle die aangewese persone om te praat oor die ondersoek, behandeling en gevolge van borskanker.
Trudie het gesê dat, saam met die slegte ervaring van behandelings, sy die ondersteuning van haar VLU-vriendinne verskriklik baie waardeer het en dat ‘n mens nie die pad kan stap sonder die regte ondersteuning nie. Elke lid het ‘n pienk strikkie gekry om haar te herinner om gereeld te gaan vir ondersoeke.
Joan Beukes het die lede meer vertel oor die Bome van die Jaar, naamlik die gewone wildevy en knoppiesboontjieboom. Interessante foto’s en inligting oor die twee bome is verskaf.
Laaste besprekings oor die konferensie wat Steenbokpan VLU aanbied, is gehou saam met Ria Strydom, streekvoorsitter, en Nadine Goddard, sekretaresse van bosveldstreek. Daar is ekstra lekker gekuier na die vergadering aangesien vyf van die lede in Oktober verjaar.
Die tak se volgende vergadering is op 8 November. Skakel Joan Beukes by 014 766 0186 of Ilana Venter by 014 779 0608 vir meer inligting oor die tak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.