Sterf op pad na lewensdroom

Debora Pretorius: 1960-10-13 tot 2018-05-11

Debora Pretorius is Vrydag 11 Mei tragies en onverwags oorlede terwyl sy op pad was om haar lewensdroom te vervul. Sy laat ʼn groot leemte in die lewens van almal wat vir haar lief was.

Sy laat haar drie dogters, Mariesa, Anel en Jannet, twee skoonseuns, Chris en Dean, ses kleinkinders asook ʼn suster en twee broers agter.

Dit was Debora Pretorius se lewensdroom om Mauritius toe te gaan. Vrydag 11 Mei het sy en Luzelle Pretorius, haar skoonsuster, uit Lephalale vertrek op pad na Pretoria om Saterdag om 09:45 Mauritius toe te vlieg. Hulle sou Vrydagaand in Pretoria oorslaap en nog ʼn paar laaste dinge doen voor die groot avontuur.

Luzelle sê Debora het op pad Pretoria toe al gesê sy voel nie lekker nie en dat sy bietjie wil gaan lê as hulle in Pretoria aankom.

“In Pretoria aangekom het sy gaan lê. Sy was kortasem en het begin vomeer. Sy is kar toe gehelp om haar hospitaal toe te neem en sy het vermoedelik in die kar ʼn hartaanval gehad want sy het net daar inmekaargesak. Daar is noodhulp en mond-tot-mond-asemhaling op haar uitgevoer, maar dit was tevergeefs,” sê Luzelle.

ʼn Roudiens vir Debora word Vrydag 18 Mei om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Onverwacht gehou.

Die familie bedank elkeen wat hulle in hierdie hartseer tyd dra en ondersteun, veral haar drie dogters. “Julle hulp word opreg waardeer”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.