Stofstorm demp nie geesdrif

Die Mopani-bande se seniorspan
Hier kom Scrap Removers!

LEPHALALE — Hardekool Akademie het Donderdagmiddag 10 Oktober met hul eerste kaskarjolyt afgeskop.

Daar is in graadverband deelgeneem en die wiele het behoorlik gerol. Bestuurders moes hulle draaie ken om nie die pad byster te raak nie. Dit was ’n pretdag by uitnemendheid en geesdriftige leerders, onderwysers, ouers en oupas en oumas was almal daar om die spanne aan te moedig. Party van die onnies en pa’s en ma’s het partykeer self ingespring en help stoot of bestuur.

Die stofstorm wat losgebars het kon nie eers die opwinding en spoed demp waarmee met sand in die oë om die draaie gejaag is nie. By die verskillende kuipe moes elkeen hul storie ken met die ruiling van stoters en bestuurders.

Ds Arno Nieuhoff het met mikrofoon in die hand die verrigtinge seepglad laat verloop en Jan van Deventer, waarnemende hoof, bedank elkeen wat ’n bydrae gelewer het tot die groot sukses van die dag. Hy het ook al die besighede bedank wat die kaskarre geborg het. “Sonder elkeen se insette sou die dag nie so ’n stormende sukses gewees het nie”.

Trofeë is na afloop van die dag uitgedeel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.