Stok in long ná rol

CUMBERLAND — Die 7-jarige Rudie Fourie, ʼn leerder van Laerskool Ellisras, is Saterdagmiddag 12 Mei met ʼn noodhelikopter na Mediclinic Thabazimbi gevlieg nadat die voertuig waarin hy was gerol en ʼn stok sy rib en long deurboor het.

Rudie Fourie sterk aan in Mediclinic Thabazimbi

Volgens Roelien (35), sy ma, was sy, Rudie en sy 8-jarige sussie, Clarisa, saam met haar skoonpa, Edmund (Ettie) Fourie op pad terug plaas toe naby Cumberland, nadat die kinders deelgeneem het aan ʼn sportdag by Laerskool Koedoeskop.

“Die grondpad is onlangs geskraap en daar was groot sandwalle aan die kant van die pad. Die Pajero waarin ons gery het se wiel het die sandwal geraak en die kar het heen en weer oor die pad begin swaai en uiteindelik gerol. Rudie het agter my gesit en die kar het op ons kant tot stilstand gekom,” vertel Roelien.

Sy sê slegs die heel agterste venster was stukkend en die stok moes op een of ander manier deur daardie venster in die kar beland het. Die stok het deur Rudie se rib en long gesteek.

“Ons het omtrent twee minute langs die pad gesit toe daar ʼn voertuig verbykom met twee jong mense in. Hulle het dadelik hulp per radio ontbied en boere vanoor die hele omgewing het vinnig by die toneel opgedaag. Een van die boere het ʼn ambulans ontbied”, sê sy. Roelien sê daar was gelukkig ʼn dr Alex Revelas wat in die omgewing gejag het en nadat iemand hom laat weet het wat gebeur het, het hy by die toneel aangekom en Rudie gestabiliseer.

“Teen daardie tyd was Rudie se lippe blou en het hy vir my gesê hy kry nie asem nie.”

Die vlieënier (MG van Greunen) en dr Revelas het met Rudie na Mediclinic Thabazimbi gevlieg terwyl Roelien-hulle met hulle kar hospitaal toe is. “Ons was nog nie eers van die grondpad af nie toe bel dr Revelas my vanuit die hospitaal om te sê hulle is veilig en Rudie is stabiel,” sê Roelien.

Teen druktyd het die dokters reeds die dreineringspyp uit sy long (wat platgeval het) verwyder. Volgens Roelien was die dokters baie tevrede met sy vordering.

Die Fourie-gesin bedank die gemeenskap van harte vir hulle ondersteuning sowel as dr Revelas, MG van Greunen en dr Marais van Mediclinic Thabazimbi vir hulle vinnige optrede en goeie mediese sorg.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.