Stortingsterrein sukses

IMG_4268

Ria Wells
LEPHALALE – Volgens Joe Meyer, vorige projekbestuurder van die Medupi Grootegeluk Uitbreidingsprojek, was die Lephalale Afvalstortingsterrein ‘n paar maande gelede ‘n afstootlike plek! Die plaaslike munisipaliteit het egter intussen ingespring en met ‘n aksie begin om die organisering en opruiming van die terrein te verbeter.
Nie baie mense kom by die stortingsterrein nie en sal nie weet van die fenominale en suksesvolle verbetering in afvalbestuur wat besig is om daar plaas te vind nie. Die terrein was voorheen gekenmerk as ‘n plek vol vlieë – wat intussen drasties verminder het – en plastiese sakke en gemors wat ongeorden die wêreld volgelê het. ‘n Lelike plek.
Intussen is die walle netjies toegemaak en herwinning is aan die orde van die dag. “So vinnig as wat vullis gestort word, so vinnig vind herwinning plaas”, sê Joe. Elke persoon wat ’n spesifieke produk herwin, hetsy glas, blikkies, plastiek, ens. het ‘n eie area waar dit gestoor word. Trokke kom dan gereeld om herwinde produkte op te laai. Daarna word die oorblywende vullis met grond bedek om te keer dat afval rondwaai.
Joe sê dat ‘n stortingsterrein geensins ‘n maklike projek is om te bestuur nie. “Ek het al baie ander stortingsterreine gesien en die standaard wat tans hier toegepas word deur Lephalale Munisipaliteit is baie goed”, is Joe se mening.
En al die honderde swaeltjies wat daar rondvlieg? “Hulle vang vlieë en is een van die beste goggajagters.”
Inaggenome dat daar mense is wat ‘n inkomste uit vullis genereer en herwinning een van die hedendaagse towerwoorde is, het die ‘asgate’ tog ‘n goeie storie om te vertel!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.