Stropers aktief in volmaan

Renosterstroping of poging tot renosterstroping het die laaste week geweldig toegeneem, sê Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG), privaat misdaadondersoekspan.

Drie vermeende renosterstropers het verlede week toegeslaan op ʼn plaas in die Thabazimbi-omgewing en hulle spore is vir byna twee dae deur lede van HPG en die gemeenskap gevolg. Hulle het weggekom.

Teen Dinsdagaand het nog ʼn span van vier vermeende stropers op ʼn plaas in die Overyssel-omgewing toegeslaan en inwoners van buurplase saam met HGP het dadelik die spore begin volg nadat daar ʼn boodskap op ʼn WhatsApp-noodgroep geplaas is dat ʼn voertuig vier verdagtes afgelaai het.

Paaie is toegemaak en hulle spore is gevolg vanaf omstreeks 21:00 Dinsdagaand 19 tot 18:30 Woensdag 20 Oktober. Helikopters is ook ingespan om te help met die soektog.

Die verdagtes het in die jaagtog wel van ʼn 375-jaggeweer en ván hulle klere ontslae geraak. Die soekspanne het die verdagtes se spore tussen Shongoane en Ga-Seleka verloor.

In nóg ʼn voorval by ʼn lodge naby Bela-Bela het drie verdagtes wel daarin geslaag om twee renosters te skiet en hulle horings te verwyder. Volgens Louwrens stem die spore ooreen met dié van die verdagtes wat vroeër in die week renosters probeer stroop het by ʼn plaas naby Thabazimbi.

In die Hoopdal polisiëringsarea is daar by ʼn Nasionale Park tussen 19 en 23 Februarie ʼn renoster geskiet en die horing verwyder. Die renoster is gevind nadat veldwagters die reuk van ʼn dooie dier geruik en die karkas gevind het. ʼn Forensiese span het die toneel ondersoek en daar is nog geen verdagtes gearresteer nie.

“Dit was rof die laaste week met betrekking tot renosterstroping en die feit dat dit volmaan was, het natuurlik daartoe bygedra,” sê Louwrens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.