Stropers gestuit

Leoni Kruger
LEPHALALE — Spore van drie verdagte persone is Sondagoggend rondom 06:00 deur veldwagters in ‘n natuurreservaat naby Lephalale opgemerk. Die Polisie is in kennis gestel en adjudant-offisier Jurg van Heerden van ‘n spesiale taakgroep het hom na die toneel gehaas.
Die spoorsnyers van die Heritage Protection Group (HPG) en die Rhino Protection Group het ao Van Heerden bygestaan en ‘n helikopter is deur ‘n plaaslike persoon ontbied en betaal.
Volgens ao Van Heerden het ‘n intensiewe opvolgoperasie gevolg en paaie is toegemaak. Omstreeks 10:30 het van die spoorsnyers op die vermeende stropers afgekom waar hulle gesit en rus het, maar toe hulle die spoorsnyers sien het hulle opgespring en weggehardloop in die digte bosse in. Ao Van Heerden sê die area is besonder ruig en dit is baie moeilik om daar spoor te sny. Hulle het egter ‘n byl, twee drasakke, ‘n jas en ‘n deken op die toneel gelos toe hulle weghardloop en die polisie het daarop beslag gelê. Volgens ao Van Heerden is daar wel ‘n vuurwapen in die een verdagte se hand opgemerk terwyl hulle weggehardloop het.
Die spore is met nuwe ywer gevolg en een verdagte het in Visgat se rigting gehardloop waar die spore in die riete verdwyn het. Die ander twee verdagtes se spore het die spoorsnyspan tot in die berge gelei. Die spore is steeds gevolg en die spoorsnyspan het besef die een verdagte het waarskynlik sy skoene uitgetrek. Dit het die spoorsny baie moeilik gemaak.
Die spanne het Sondagaand om ongeveer 21:00 onttrek as gevolg van die donker en hulle het die spore in die berg verloor.
Ao Van Heerden sê geen renosters is in die proses gestroop nie en hy skryf dit toe aan die wakker optrede van die veldwagters.
Hy bedank almal van oral uit die gemeenskap wat eenvoudig daar opgedaag het om te help en op welke manier ookal ‘n bydrae gelewer het. “Dit het ‘n ongelooflike verskil gemaak, baie dankie almal” sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.