Stropers loop hul vas

Renosterstropers

Leoni Kruger
STEENBOKPAN — Twee vermeende renosterstropers is Saterdag 6 Februarie op ‘n plaas in die Steenbokpan-omgewing betrap en gearresteer.
 Volgens adjudant-offisier Jurg
van Heerden van die Limpopo renostertaakgroep en ondersoek-beampte van die saak, het wagte van die sekuriteitsgroep wat die plaas oppas Saterdagoggend omstreeks 07:30 vreemde spore gesien wat van die teerpad se kant af oor die heining geklim het. Hulle het die spore gevolg en vir a.o. Van Heerden vertel dat hulle ‘n renosterbul hoor aankom het “met sy stertjie in die lug”. Van Heerden sê dit is algemeen dat renosters se sterte in die lug is as iets hulle pla.
Die een sekuriteitsbeampte het toe blykbaar vir die ander gesê om plat te gaan sit want hy het onraad vermoed. “Hulle het skaars gesit toe sien hulle vier mans ongeveer 20 m van hulle af oor die pad hardloop. Die een het ‘n wapen in sy hand gehad” sê a.o. Van Heerden. Hy sê aangesien die sekuriteitsbeamptes nie gewapen was nie, het hul nie die onbekende gaste gekonfronteer nie, maar die eienaar van die plaas geskakel. Kort
hierna is hulp ontbied deur middel van die gemeenskapsradiokanaal. Die SAPD is ook geskakel.
A.o. Van Heerden sê lede van die gemeenskap en spoorsnyers was die res van die dag op die verdagtes se spore en teen 16:00 het lede van die plaassekuriteit, die Heritage Protection Group (HPG) en plaaslike spoorsnyers daarin geslaag om twee van die vier verdagtes aan te keer.
Volgens a.o. Van Heerden het die ander twee oor die grensdaad gevlug en hulle is vermoedelik by die teerpad opgelaai, want hulle spore het verdwyn na die Steenbokpan/Buffelsdriftpad.
‘n Vuurwapen, drie messe, tien 375-rondtes, ‘n knaldemper en ‘n selfoon is in besit van die verdagtes gevind.
HPG se bestuur bedank Tina de Jager vir die beskikbaarstelling van haar helikopter asook vlieënier MG van Greunen vir hulp verleen.
‘n Saak is geopen per MAS55/2/2016.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.