Stropers tjoekie toe

Drie renosterstropers is Maandag 24 Februarie in die Streekshof in Modimolle gevonnis.

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die Bedreigde Spesies-eenheid is daar in September 2019 ’n renoster in die Rankinspas-area ontdek met albei horings verwyder. Thulane Mhlongo, Felix Udaka en Simon Sithole is tydens ’n opvolgoperasie net buite Vaalwater gearresteer.

Die 32-jarige Mhlongo, ’n Suid-Afrikaanse burger en die bestuurder van die voertuig wat tydens die strooptog gebruik is, is skuldig bevind aan die besit van ’n renosterhoring sonder permit en gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf. Sy voertuig is verbeurd verklaar aan die staat.

Die 37-jarige Udaka, ’n Mosambiekse burger, is skuldig bevind vir die onwettige besit van ’n renosterhoring en gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf. Hy is ook gevonnis tot drie maande gevangenisstraf omdat hy onwettig in die land is.

Die 42-jarige Sithole het ’n Suid-Afrikaanse sowel as ’n Mosambiekse ID-dokument en hy was reeds in 2014 skuldig bevind aan renosterverwante oortredings. Hy was toe gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf, maar het net vyf jaar daarvan uitgedien.

Hy is Maandag skuldig bevind aan die onwettige jag op ’n renoster (15 jaar gevangenisstraf), die onwettige besit van ’n renosterhoring (vier jaar gevangenisstraf) en die onwettige besit van ’n vuurwapen (vyf jaar gevangenisstraf).

Die 15 en vyf jaar word aaneenlopend uitgedien (20 jaar). Bykomend daartoe sal die tyd wat nog nie uitgedien is toe hy op parool was vir vorige oortredings nie, ook uitgedien word.

In nog ’n renosterstropingsaak wat in 2015 in Hoedspruit gebeur het, is Andries Mathebula en Shadrick Zitha verlede week gevonnis tot onderskeidelik 20 en 17 jaar gevangenisstraf in die Mankweng Streekshof. Hulle het tereggestaan vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, die onwettige jag van ’n bedreigde spesie en die verwydering van renosterhoring. Beide is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Ao Van Heerden sê hy is verheug daaroor dat die stropers gevonnis is en gevangenisstraf gaan uitdien.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.