Stropers vir 60 km gejaag


CUMBERLAND — Twee vermeende renosterstropers is Maandagmiddag 21 Augustus gearresteer nadat hulle spore dwarsdeur die nag vir ongeveer 60 km gevolg is.
Die eienaar van ‘n plaas in Cumberland het Sondagnag omstreeks 23:00 wakker geword nadat hy ‘n moontlike skoot gehoor het by die renosterkamp teen sy huis.
Hy het opgestaan en gaan ondersoek instel en een van die sekuriteitsbeamptes wat die renosters oppas het bevestig dat hy ook ‘n skoot gehoor het.
Die eienaar van die plaas het dadelik hulp ontbied en boere uit die omgewing is geaktiveer om paaie toe te maak en op die uitkyk te wees vir enige verdagtes.
Adjudant-offisier Jurg van Heerden van die Limpopo SAPD se eenheid vir bedreigde spesies asook lede van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n privaat misdaadondersoekeenheid, is ontbied en twee stelle spore is by die renosterkamp opgemerk. Die spore het deur die bosse in die rigting Lephalale beweeg.
Die spore is tot by Glenovermyn gevolg en teen ligdag is ‘n helikopter ontbied. Van daar af is die spore terug tot in die Matlabasrivier, terug na die Glenovermyn, in die rigting van Matjiesfontein en af in die rivier. Die dik sand in die rivier het die spoorsnyers se taak baie moeilik gemaak.
Maandagmiddag teen ongeveer 16:00 is twee verdagtes gearresteer en teen ongeveer 18:00 is beslag gelê op ‘n vuurwapen nadat een van die verdagtes dit in die rivier uitgewys het.
Teen druktyd was die byl en ammunisie nog nie gevind nie en volgens die verdagtes het hulle dit “weggegooi” toe hulle gevlug het.
Die renoster het teen druktyd nog geleef, maar ‘n patroon het in haar borskas vasgesit en sy het ‘n wond aan haar been gehad.
Die verdagtes verskyn Donderdag 24 Augustus in die Landdroshof in Thabazimbi.
“Baie dankie aan die lede van HPG, die persoon wat ‘n helikopter aangebied het asook die boere en plaaswerkers vanuit die gemeenskap vir hulle samewerking en hulp,” sê Van Heerden.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.