Suster van uitnemendheid

Dalene du Plessis, hospitaalbestuurder en Quellerie Theunissen

Leoni Kruger
LEPHALALE — Quellerie Theunissen het Vrydag 12 Mei, op Internasionale Verpleegstersdag, vir die tweede keer in haar verpleegloopbaan van 36 jaar ‘n “Nursing Excellence Award” ontvang vir uitstaande diens as verpleegkundige.
Quellerie het verskeie ander beroepe in die mediese veld gehad, maar vanaf verlede jaar is sy terug by die Mediclinic-span en dié keer by Mediclinic Lephalale as deel van die ongevalle-span.
“Ek wil my passie uitleef om mense te help en te versorg en dit is presies wat ek nou kan doen as gewone suster. In Ongevalle stabiliseer ek pasiënte en help die dokter waar ek kan. Ongevalle is ‘n lekker opwindende afdeling van die hospitaal – die adrenalien pomp heeltyd” sê sy.
“Mens kan nie hard raak nie, maar mens leer met die tyd om simpatie en empatie te hê met die pasiënt en ná die tyd terug te staan. Dit is ook moeiliker in die platteland waar mens die gemeenskap ken – hulle lief en leed is jou lief en leed” verduidelik sy.
Die een geval wat vir haar uitstaan in die tyd wat sy by Mediclinic Lephalale is, is Andrew Schoeman wat deur ‘n mamba gebyt is en ‘n allergiese reaksie teen die teengif gehad het. Sy sê sy geval was in haar oë ‘n wonderwerk en dat niks moontlik is sonder die Here nie. “Hy gee my die kennis wat ek dink ek al vergeet het en dit kom terug in ‘n situasie waar jy dit nodig het” sê sy.
Sy vertel van ‘n kardioloog wat haar uit een van die hospitale in Pretoria gebel het. ‘n Pasiënt met erge borskaspyne is plaaslik gestabiliseer en daarna na die stad oorgeplaas. Sy sê menslik gesproke kon die man nie leef nie, maar hy het. “Die kardioloog bel my ná sy ontslag en vra my wat doen ons in die platteland dat dié man oorleef het?” sê sy. Haar antwoord? “Dokter, ons bid, want ons het nie ‘n intensiewe sorgeenheid of spesialiste nie, so ons bid”.
Quellerie beklemtoon dat die toekenning wat sy gekry het te danke is aan almal wat saam werk om ‘n sukses te maak. “Ek sal dit nooit alleen kan regkry nie, ek is afhanklik van die mense wat saam met my werk” sê sy. Dis vir haar belangrik om respek te toon aan almal, om nie sekere pasiënte uit te sonder nie en om almal met menswaardigheid te behandel. Verpleeg elke pasiënt asof dit jyself is wat daar lê.
Haar boodskap aan die gemeenskap is: “ons hospitaal is klein, maar ons doen ons bes met dit wat ons het. Die meeste van ons gaan sommige aande eers laat huis toe om nog die laaste bietjie verskil te maak. Sien die verpleegpersoneel hier as mense wat julle wil help. Ons is soms baie besig en pasiënte moet wag, maar ons sal nooit iemand onnodig laat wag nie. Privaatpraktyke is nie oop oor naweke nie, Ongevalle is dus naweke oop vir gewone praktykgevalle sowel as noodgevalle. Jy was dalk eerste hier, maar daar kom ‘n pasiënt in wat byvoorbeeld in ‘n ernstige motorongeluk was. Die persoon gáán dan voor jou gehelp word. Kinders, swanger vroue, mense met borspyne en mense wat in ongelukke was word eerste gehelp. Neem dit in ag voordat jy sosiale media toe hardloop en die hospitaal of personeel slegmaak. In sommige gevalle kan TYD lewe of dood beteken” sê die suster wat haar lewe daaraan wy om mense te help.
En sy doen dit uitstekend.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.