Swaar vonnisse vir plaasmoord “dien as voorbeeld”

Twee verdagtes vir die moord op Pieter (Vink) Pieterse is Maandag 12 Oktober in die Hooggeregshof in Polokwane swaar gevonnis.

 Die eerste verdagte, die 39-jarige Phuti Phineas Molangoane, is skuldig bevind op aanklagte van moord, huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

 Molangoane is gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf (vir die moord) en twee kere 15 jaar gevangenisstraf (huisbraak en roof) sowel as vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

 Die tweede verdagte, die 25-jarige Thapelo Nickel Motsamai, is skuldig bevind op aanklagte van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede. Hy is gevonnis tot twee kere 15 jaar gevangenisstraf wat gelyktydig uitgedien sal word. 

 Wyle Pieterse se weduwee, Susan, en sy seun, het die hofsaak bygewoon.Hulle is dankbaar dat dit uiteindelik afgehandel is en bedank almal wat betrokke was by die saak en die afhandeling daarvan.

Die ander drie verdagtes in die saak is Phillip Modime, Tshepo Rasodi en Joel Mashaba. Rasodi is in Augustus vanjaar deur die Polisie in Modimolle doodgeskiet nadat hy voortvlugtend was. Modime was in aanhouding en teen druktyd het die ondersoekbeampte gewag op ʼn hooggeregshofdatum van die direkteur van openbare vervolging. Mashaba het vir die staat getuig.

 Regter Ephraim Makgoba, regterpresident van Limpopo, het hom baie sterk uitgespreek teenoor plaasmoorde en die gepaardgaande bedreiging van voedselversekering. Hy het verwys na die onlangse Senekal-moord en gesê die uitspraak van bogenoemde saak moet as ʼn voorbeeld dien.
 Adjudant-offisier Oosthuizen, die ondersoekbeampte op die saak, is vanuit verskeie oorde bedank en geloof vir sy bydraes, insette en harde werk gedurende die ondersoek van die saak.

 Ao. Oosthuizen het op sy beurt gesê dat daar baie mense betrokke was by die ondersoek, waaronder lede van die Heritage Protection Group (HPG). Hy bedank ook vir advokaat Kobus Jacobs (staatsaanklaer) van Pretoria.

 Pieter (Vink) Pieterse is op 5 Februarie 2017 op die plaas Sumadi in die Afgunsarea vermoor.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.