Swaarkry maak jou sterk — soos ‘n pêrel…

Elsje Neethling
Elsje Neethling

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die mooiste dinge in die wêreld ontstaan uit pyn. Wrywing. Irritasie. Net soos ‘n pêrel wat gevorm word deur aanhoudende wrywing en irritasie. “Ons dra ons geluk, pyn en lyding ewewigtig” het Corli van der Linde gesê tydens die opening van Saterdag se Pêrel-funksie wat deur die Hervormde Kerk Onverwacht aangebied is.
Die gasspreker vir die geleentheid was Elsje Neethling. Blommekind wat op haar knieë gedwing is om alles aan God oor te gee. ‘n Hippie in ‘n rystoel wat elke dag doelbewus aanpak asof dit haar laaste is – met ‘n lied in haar hart. Die bekende Ryk Neethling se sus.
Elsje loop al vir 24 jaar ‘n pad met breinkanker. Sy was 13 jaar oud (in graad 8) toe sy een oggend opstaan en nie kon beweeg nie. Maar, sê sy, haar ouers se “attitude” het haar gered. “Ek is baie gelukkig om hulle in my lewe te hê”. Dit was in 1993. Elsje was verlam. Dit was vir die gesin so ‘n afgryslike gedagte dat hulle gehoop het dit is liewer breinvliesontsteking. Vier ure later en na verskeie breinskanderings het sy die nuus ontvang dat sy hoogstens twee maande oor het om te leef. Niemand het kans gesien om te opereer nie.
“Dit is waar my lewe begin het” sê sy.
Elsje het drie breinoperasies gehad, maar “een klein selletjie het in haar stuitjie gaan lê”.
Twee maande voor sy sou trou het die dokters haar laat weet die kanker is terug. “Dit was elf jaar nadat ek vergeet het van kanker – ek het elke jaar vir ‘n skandering gegaan en na 1998 was ek vir elf jaar in remissie. Tot in 2007” sê sy.
Sy het toe tog getrou, maar is later geskei.
Tog sê Elsje dat haar probleme nie groter is as enigiemand anders se probleme nie, maar sy het geleer om te kyk na die groter prentjie. Gaan dit waaroor jy nou so bekommerd is oor twee jaar nog enigsins saakmaak?
“As ons nog nie swaargekry het nie, het ons nie begrip vir ander se swaarkry nie” sê sy.
Die feit dat sy vir die laaste drie jaar in ‘n rolstoel is, skryf sy toe aan foute wat dokters gemaak het en haar rugmurg “gebrand” het. Sy kan wel staan, maar kan nie meer onthou hoe dit voel om te loop nie.
Elsje sê sy is nie kwaad vir God nie – “You don’t know how strong you are until God no longer gives you an option”.
“Daar is twee belangrike dae in jou lewe – die dag waarop jy gebore word en die dag wat jy besef waarom jy gebore is. Toe ek my bene se beweging verloor het, het ek iets bygekry. God het my op my knieë gebring en dit is letterlik waar ek is. Ek is dankbaar en ek is hier net deur genade.”
Elsje se boek, “Ek droom van ‘n droom” is beskikbaar by CUM boeke. Besoek ook die webblad hip-e.co.za om te sien watter verskil sy maak in die lewens van pasiënte wat chemoterapie ontvang.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.