Tabakboere beleef druk

Boere staan aandagtig en luister na die besprekings van die Nasionale Kultivarproewe
Boere staan aandagtig en luister na die besprekings van die Nasionale Kultivarproewe

VAALWATER — Ongeveer 130 boere en belangstellendes het Woensdag 27 Januarie by Vaalwater Rivier Oord bymekaargekom vir die jaarlikse Waterberg Tabak-boeredag aangebied deur die Limpopo Tobacco Prosessors.
Voorsitter en hoof-uitvoerende beampte van die Tabakinstituut van Suider-Afrika, Francois van der Merwe, het die boere oor uitdagings en positiewe punte in die tabakbedryf vir 2016 toegespreek.
“Die tabakbedryf is steeds onder groot druk. Daar word nasionaal asook internasionaal van baie kante af na die bedryf gekyk,” het Van der Merwe gesê.
“Internasionaal is daar baie aanduidings dat daar binnekort uiterste regulasies in plek gestel gaan word. In Suid-Afrika self word die hele tabakwet tans herskryf en dit gaan binne die volgende paar maande aan die kabinet voorgelê word vir goedkeuring. Die Tabakinstituut was geensins betrokke by die nuwe wetgewing nie en daar word slegs gespekuleer oor presies hoé streng die nuwe regulasies in Suid Afrika gaan wees,” sê Van der Merwe.
“Ons verwag geen goeie nuus in die nuwe Tabakwet nie. Daar gaan moontlik ʼn totale verbod op rook in openbare plekke wees. Ons verwag dalk ʼn totale verbod op die tentoonstelling van tabakprodukte in winkels. Die Minister het ook laat val dat gewone wit verpakking vir alle tabakprodukte dalk verpligtend sal word en dit gaan waarskynlik ʼn vreeslike prysoorlog tussen kompeterende maatskappye veroorsaak,” het ‘n sigbaar bekommerde Van der Merwe gesê.
“Onwettige handel en smokkelry van tabakprodukte is tans 24% van die totale mark, dit beteken meer as 700 pakkies onwettige sigarette word daagliks gerook. Dit beteken ook dat die regering meer as R10 000 000 ʼn jaar verloor aan belastinggeld as gevolg van die onwettige handel. Die ergste daarvan is die feit dat ongeveer 60% van hierdie onwettige produkte in Suid Afrika vervaardig word.”
“Daar is wel ʼn hele aantal positiewe items waarna tabakboere kan kyk. Die tabakbedryf is tans reeds goed gestruktureer en georganiseer. Daar is heelparty strategieë in plek om alle probleme aan te spreek en te beveg. Die mense in die bedryf werk almal saam en die toekoms vir tabakboere in Suid Afrika is steeds baie goed. Die bedryf het ook boere wat verbind is tot transformasie,” het Van der Merwe gesê.
Hy het ook gesê dat die tabakbedryf nie gering geskat moet word nie. Van die boer tot die kafee-eienaar kan geld maak in hierdie bedryf. Daar word jaarliks 186 000 poste in die tabakbedryf geskep en hierdie werknemers het ongeveer 500 000 afhanklikes. Die tabakbedryf dra ongeveer R13 miljard by tot die Bruto Binnelandse produk van Suid Afrika.
Drie plase in die Vaalwater-omgewing is gedurende die dag besoek. Die Nasionale Kultivarproef was op Willem Stegmann se plaas aangebring en boere het hier die geleentheid gekry om na die vordering van die verskillende kultivars te kyk.
Op Joe Klopper se plaas het boere na ʼn hele blokproef gekyk en op die plaas van Thinus Maritz het Isak Nagel ook ʼn aantal kultivarproewe gedoen wat boere kon bestudeer.
Tabakvoorligter, Johan Riekert, het die prysuitdeling hanteer en almal bedank wat die dag bygewoon en ondersteun het.
Die reëlingskomitee van die Waterberg Tabak-Boeredag bedank alle borge vir hul bydraes wat die dag moontlik gemaak het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.