Tak Manketti word boomwys

LEPHALALE — Die Dendrologiese vereniging se Tak Manketti is Saterdag 4 Maart vir ‘n boomuitstappie na Sable Hills.
Marthie Scheepers skryf:
“Ek hoor die Bosveld asemhaal. Stadig in, Stadig uit.
Tak Manketti word met entoesiasme en ope arms by Sable Hills Echo Park ontvang deur Gerhardt Viljoen (eienaar) en Pierre van der Merwe wat die park bestuur. Ons ontmoet Johanna van die Dam, befaamde skilder, en van die inwoners. Alles is in plek. Voertuie om ons rond te ry, inligting oor wat, wanneer en waar dinge gaan gebeur. Dankie Gert du Plessis (Tak Manketti komiteelid) dat jy alles so mooi bymekaar hou.
And then the juices start flowing …
“As julle vandag hier weggaan, gaan julle ‘n koedoebessie en ‘n fluweel soetbessie ken! Aan die woord is die boommeester Gert Gif (du Plessis). En soos ons ry haal hierdie man kennis en feite en stories uit wat my mond laat oophang. Gryp sommer ‘n bos blare so in die ry en praat en verduidelik. Name soos suursanna (shakamapruim) en buffelbal (Transvaalse katjiepiering/koedoeklapper) uit toeka se dae met ‘n storietjie daarby laat ons tone krul van lekkerkry. Pragtig begin die witsering se blare nou verkleur, een van die eerste bome wat verkleur, leer ons. Dis hulle wat in die herfs so geel staan teen die rante.
Kopkrappers…. Die reuse brandnetel was nie so moeilik nie, maar die doringolm laat selfs ‘n boomkokkedoor kopkrap. Sien? Selfs kenners kan soms twyfel.
En dan is dit etenstyd. Pap met ‘n spesiale ietsie in, heerlike sous. Gewillige manshande wat die dames se vleis braai. Pragtig so by die rivier en saam met aangename mense. Die boomboeke is nog steeds uit en een en almal se ore is gespits om te hoor as die boomkokkedore iets laat val wat ons beginners kan help. Sommer so in hulle stride haal hierdie kokkedore uit en wys. Deel met liefde hulle kennis en ervaringe.
 BOOMLYS: (Net ‘n lusmaker vir die wat volgende keer wil saamgaan…) horingpeultjie, koedoebessie, fluweel soetbessie, witsering, dopperkiaat, taaibos, bloutaaibos, koedoeklapper, shakama-pruim, bobbejaan/swart-klapper, geel/blouhaak, waterbessie, blinkblaar wag-‘n-bietjie, haak-en-steek en baster maroela.
Dan is die dag verby en een en almal gaan huis toe met nuwe entoesiasme en vol inspirasie.
Sien julle die naweek van 5 Mei op dr Willie Barnard se plaas in die Rooiberg-omgewing?”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.