Tawanda doen dit wéér

LEPHALALE — Die 31-jarige Tawanda Trust March het Maandag 23 November weer eens uit aanhouding ontsnap.

Tawanda het uit die aanhoudingselle by die Lephalale Landdroshof ontsnap nadat hy in die hof verskyn het op ’n klag van diefstal. Die saak was uitgestel na Dinsdag 24 November. Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisiewoordvoerder, was Tawanda ook gearresteer vir huisroof, ontsnapping uit aanhouding, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en huisbraak.

Tawanda is 27 Julie vanjaar by sy woonplek in Lephalale herarresteer nadat hy uit die aanhoudingselle by Lephalale Polisie ontsnap het.

Misdaadbekampingsorganisasies soos die GPF en HPG het dit toé reeds duidelik gemaak dat dinge nie so kan aangaan nie. “Sake word tot vervelens toe uitgestel en misdadigers ontsnap net té gereeld uit aanhouding in Lephalale en niemand word daarvoor verantwoordelik gehou nie”, het hulle gesê.

Mogol Pos het gepraat met brigadier Motlafela Mojapelo, provinsiale Polisiewoordvoerder, om vas te stel wat die stappe is wat gevolg gaan word rakende die beamptes wat verantwoordelik was daarvoor dat Tawanda by die hof en terug in die selle kom. Brig. Mojapelo het die koerant verseker dat daar wel interne ondersoeke sal wees om vas te stel of daar enige nalatigheid was by die beamptes wat vir hom verantwoordelik was. Indien wel, sal toepaslike stappe geneem word.

Nog ’n kriminele saak van ontsnapping uit wettige aanhouding is geopen teen Tawanda.

Die omstandighede rakende hierdie voorval is deel van die voortgesette ondersoek.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die herarrestasie van Tawanda, word versoek om luitenant-kolonel Richard Boshomane te skakel by 079 894 5501 of die Stop Misdaadnommer 086 001 0111 of die naaste polisiestasie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.