Tawwe Tienie!

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die 78-jarige Tienie van der Westhuizen het nooit gedink een video op Facebook kan so ‘n opskudding veroorsaak nie. Tienie is die dame agter die wonderlike Eazy Steam Press strykplankoortreksels wat by die Bosveldfees uitgestal is.
Een van die bemarkers van dié besondere oortreksels, Anthony, het Ria Wells van Mogol Pos so beïndruk dat sy vir hom gevra het of sy ‘n video-opname van sy oortuigende bemarkingspraatjie kan maak. Mogol Pos het dié video op Facebook geplaas en teen druktyd het dié video ‘n rekord aantal van 132 949 mense bereik. Die reaksie was oorweldigend!
Verskeie mense het die kontaknommer van die verskaffer gevra en Mogol Pos het dit op Facebook verskaf.
Mogol Pos het met Tienie gepraat en sy sê sy is ongelooflik dankbaar oor al die navrae wat sy ontvang het na aanleiding van die video-plasing. Mense het van sover as Australië af navraag gedoen en kontakbesonderhede gevra om die oortreksel te bestel.
Tienie sê haar skoonseun, Badi, het 25 jaar gelede na baie navorsing dié oortreksel ontwerp en bemark. Wilna, haar dogter, was betrokke by die bemarking en verkope van die oortreksel – hoofsaaklik by skoue en markte en Tienie het die oortreksels gemaak.
Wilna het haar intussen tot die bediening gewend en Badi se werk hou hom baie besig. Die logiese uitvloeisel hiervan was dat Tienie die hele projek oorneem – sy het dit gedoen en gaan sedertdien op ‘n baie kleiner skaal met die maak en bemark van die oortreksels voort.
Tienie het drie mans wat vir haar werk en die produk by stalletjies bemark.
Petrus, wat die oortreksels met ‘n industriële masjien kafdraf, het destyds skoene skoongemaak toe Tienie hom “ontdek” het. Sy het hom geleer hoe om met die masjien te werk en deesdae maak hy van oggend tot aand skrykplankoortreksels.
Tienie woon in ‘n woonstel in Monumentpark in Pretoria op dieselfde erf as ván haar kinders. Die fabriek waar die oortreksels vervaardig word is net langs haar huis met ‘n tennisbaan aan die ander kant, want Tienie rig steeds elke dag van 11:30 tot 18:00 tennis af. Soggens is sy in die fabriek.
Wat hierdie verhaal nog meer merkwaardig maak is dat Tienie reeds in 2004 met kanker gediagnoseer is, maar besluit het dit gaan haar nie onderkry nie. “Al is my liggaam nie so sterk nie, is my kop baie sterk. Die meeste mense van my ouderdom werk nie meer nie, al is hulle gesond. Ek is glad nie paniekerig oor my gesondheid nie, ek kry gereeld chemoterapie, maar dan val ek net weer in met die tennisafrigting en die fabriek”.
Tienie bedank elkeen wat navraag gedoen het oor die oortreksels asook dié wat dit gekoop of bestel het van harte vir die ondersteuning.
Indien jy nog nie jou strykplankoortreksel gekoop of bestel het nie, skakel Tienie gerus by 082 562 4528.
As jy nog nie die video gesien het nie, gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebook-blad.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.