Ter nagedagtenis aan Pieter du Toit …

Die foto’s wat na 50/50 gestuur is
Die foto’s wat na 50/50 gestuur is

Ria Wells
LEPHALALE — Pieter du Toit was in menige opsig ‘n legende in die bosveld en sy passievolle aanslag of mening oor verskeie sake het nie ongesiens en beslis nie ongehoor verbygegaan nie.
Ek onthou goed hoe hy Mogol Pos ‘n paar maande gelede gebel het en daarop aangedring het dat ons vermeld hoeveel tonne en tonne liter water vermors word met die mengkrane waar jy nie altyd weet na watter kant moet jy die armpie draai vir die warm of vir die koue water nie. Eers nadat jy liters water vermors het kom jy agter watter kant die warm water is. En dit in ‘n land waar daar min water is, het hy beslis bygevoeg.
‘n Jaar of twee gelede laat gaan hy my na hulle huis in Oberholzerstraat. Dis nou voordat hy en Hester Pretoria toe verhuis het. Hy het ‘n goeie storie sê hy. En ‘n mens sê nie nee vir ‘n goeie koerantstorie nie. Daar aangekom sê hy ek moet ‘n storie skryf en ek moet dit instuur vir ‘n kompetisie op die TV-program 50/50 want hy wil daai bakkie wen! Ek maak of ek weet waarvan hy praat. Nou ja, die koerantstorie is daarmee heen! Pieter se storie is geskryf en gestuur en ons het gewag. Hy het nie die bakkie gewen nie, maar ek glo dat die gemeenskap die passie waarmee hy geleef het deur middel van hierdie storie sal verstaan. Altyd oplettend en waaksaam oor wat vir mens en dier goed is. En ek wonder nou nog waarom 50/50 dit nie uitgesaai het nie.
Lees gerus Pieter se storie hieronder – net soos wat dit na 50/50 aangestuur is. Dit gaan oor ‘n mensgemaakte ramp en die natuur se manier:
Mnr Pieter du Toit van die plaas Virginia in die Ellisras-omgewing het vir die eerste keer in sy 71 jaar die volgende beleef:
Die bosboklammetjie moes baie klein gewees het toe sy deur ‘n koedoe se rugwerwel se murgkanaal getrap het. Die bokkie het groter gegroei met die werwel om die voorpoot. Pieter se seun Rudi het die kruppel bosbokkie opgemerk en haar geskiet omdat hy gedink het sy is gewond. Groot was die verbasing toe die werwel om die bokkie se been opgemerk word – ‘n ramp uit die natuur wat nie deur die mens verhoed kon word nie. Twee koedoekarkasse het in die Limpoporivier se bedding gelê met die horings ineengestrengel – vermoedelik ‘n geveg met die gevolg dat die koedoes gevrek het, vandaar die genoemde geval.
In die tweede geval is dit egter ‘n ander storie. ‘n Njalalammetjie het met sy agterpoot deur ‘n afvalstukkie plastiekpyp getrap – iets wat aan growwe nalatigheid toegeskryf moet word. Waar pype gelas word mag geen stukkies in die veld agtergelaat word nie. Die Njalaooitjie se lot is dus deur die mens bepaal. Pieter se seun het ook dié kruppel ooitjie opgemerk en nadat sy geskiet is, die ontdekking van die pyp om die agterpootjie gemaak.
Hierdie is twee rare verskynsels – die vraag kan gevra word waarom die twee bokkies juis op daardie spesifieke oomblik in die rugwerwel en pyp getrap het? Een mensgemaak, een uit die natuur …
Aangeheg is die foto’s wat duidelik die koedoerugwerwel en die plastiese pyp om die pote aandui.
Ironies dat hierdie toe tog wel ‘n koerantstorie geword het.
Die bosveld bring hulde aan Pieter. Hy was uniek, ‘n enigma, ‘n legende en bo alles die mens met die goue en gulde hart vir sy familie en medemens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.