Tien van die bestes!

Leoni Kruger
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se tien toppresteerders in vanjaar se matriekeindeksamen is omtrént ‘n klomp uiteenlopende mense. Hulle toekomsplanne sluit ‘n verskeidenheid beroepskeuses in – van medies en aptekerswese tot ingenieurswese, grafiese kuns en regte. Die een ding waaroor hulle wel saamstem is dat mens niks bereik sonder harde werk nie.
Barbara Emslie (1) gaan vanjaar medies studeer by TUKS en so in albei haar ouers – Werner en Mariëtte – se voetspore volg. “Ek is nog altyd iemand wat hou van uitdagings en ek glo dat hierdie loopbaankeuse baie opwindende uitdagings inhou” sê sy.
Cara van Heerden, (2) sê sy geniet die plaaslewe en doen graag potlood- en houtskoolsketse van mense. Sy gaan Chemiese Ingenieurswese studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
Tanya van Zyl, (3) gaan vanjaar Grafiese Ontwerp studeer aan die Noordwes Universiteit (NWU). Sy sê sy sien baie daarna uit om verder in kuns te studeer, want nou kan sy haar kreatiwiteit ten volle uitleef.
Karli van Blommenstein (4) sê sy het van kleintyd af hard gewerk. Sy gaan vanjaar Aptekerswese aan die NWU studeer.
Francois Shaw (5) sê hy is sy hele lewe lank al “nuuskierig” oor alles en hy glo dat mens nie alles net moet aanvaar nie, maar dinge moet bevraagteken. Francois gaan Meganiese Ingenieurswese aan die NWU studeer.
Abbigail Badenhorst (6) sê sy is hardwerkend en hou van uitdagings. Sy gaan vanjaar Aptekerswese aan die NWU studeer.
Len Jordaan (7) sê hy is opgewonde oor die nuwe vooruitsig om nie meer skool toe te gaan nie. Hy gaan vanjaar werk en eksperimenteer om te sien waarvan hy hou en wat hy met sy lewe wil maak voordat hy verder gaan studeer.
Ernesto Hattingh (8) gaan vanjaar Siviele Ingenieurswese studeer by TUKS. Hy sê hy sien baie uit na die studentelewe en na die nuwe hoofstuk in sy lewe.
Renthia Fouche (9) glo mens moet hard werk vir dit wat jy wil hê. Sy gaan Regte deur UNISA studeer en sy was bevoorreg genoeg om werk by ‘n plaaslike prokureursfirma te kry “sodat ek solank agtergrondinligting oor my studierigting kan kry”.
SW Liversage (10) en sy gesin het in sy graad 8-jaar na Lephalale verhuis en hy sê die personeel van Hoërskool Ellisras het vir hom baie beteken. SW gaan vanjaar Meganiese Ingenieurswese by TUKS studeer en hy sê hy sien baie uit na dié opwindende nuwe fase van sy lewe wat voorlê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.