Tony-ondersoek duur voort

STEENBOKPAN — ‘n Spesiale forensiese ondersoekspan het Vrydag 3 Februarie die plaas Ringbult in Steenbokpan deursoek vir nog moontlike bewyse van renosterstroping.
Dit is in opvolg op Tony Freitas se arrestasie op 27 Januarie op vyf aanklagte rakende die onwettige jag van spesiale beskermde diere en die onwettige besit van liggaamsdele en horings. Die arrestasie is gemaak nadat inligting ontvang en opgevolg is.
Freitas is Woensdag 1 Februarie borg van R250 000 toegestaan met streng voorwaardes. Etienne Rossouw het op instruksie die borgaansoek hanteer, maar het geen instruksie ontvang om die verdediging te hanteer nie. Dit is tans onduidelik wie die verdediging gaan behartig.
Volgens inligting is nog waardevolle bewysstukke deur die forensiese span op die plaas gekry en dit sal later bekend gemaak word.
Die saak is uitgestel na 2 Maart in die Lephalale Landdroshof en die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.