Toor met sjokolade was vet pret

Nicola met haar “getemperde” sjokolade
Nicola met haar “getemperde” sjokolade

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die lede van Ellisras VLU het Saterdag 23 Julie ‘n baie geslaagde gevorderde sjokoladekursus onder leiding van professionele sjokolateur Nicola Greyling aangebied. Die aanbieding was ‘n opvolg op verlede jaar se aanbieding en die Mogolklub funksiesaal het gegons soos die dames vrae gevra en sjokolade beproe en –ruik het.
Gedink sjokolade is sjokolade? ‘n Brokkie inligting wat almal verbaas het, is dat die “regte” suiwer sjokolade waarmee daar gebak en versier word, R900/2 kg sjokolade kos! Dit is ‘n bietjie dik vir ‘n daalder as mens gereeld met sjokolade bak en brou.
Om dié rede het die spitsvondige Nicola gedemonstreer hoe gewone sjokolade wat algemeen verkry word, “getemper” word. (Sjokolade word nie gekook nie, dit word getemper). Die temperingsproses behels dat die sjokolade in ‘n vlekvrye staalbak bo-oor ‘n pot kookwater geplaas word en stadig verhit word – dit moenie kook nie.
“Die sjokolade in ons winkels is pure vet” sê Nicola. Om dié rede word “winkelsjokolade” verhit, gebrei met die hande, laat rus, weer verhit, weer gebrei, weer laat rus – totdat die grootste hoeveelheid vet uitgewerk is.
Dan is die sjokolade gereed om te gebruik vir vorming (molding).
Sy het ook haar spesiale resep verskaf om vir “molding” te gebruik. Dit is 450 g sjokolade verhit oor die kastrol saam met ‘n halwe koppie glukosestroop.
Die sjokolade-lasagne wat gedemonstreer is het vir menige kursusganger ‘n nuwe idee gegee vir Sondagmiddagpoeding. Verleidelik verby en dit lyk sommer spoggerig.
VLU Ellisras se lede het vingerlek-eetgoed voorgesit saam met tee en koffie en na afloop van die “Toor met sjokolade” is almal bederf met heerlike tuisgemaakte sop en brood.
Dit was ‘n oggend van kennis deel en die kursusgangers het gereeld geskaterlag na aanleiding van Nicola se sêgoed en passie vir sjokolade.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.