Toor met sjokolade

LEPHALALE — Het jy al by ‘n restaurant of tuisnywerheid ‘n sjokoladebedekte koek gesien wat jou asem wegslaan en gewonder hoe mens dit self kan doen?
Danksy Ellisras VLU kan jy dalk binnekort met so spogkoek in jou eie kombuis staan.
Nicola Greyling se sjokoladedemonstrasiedag wat Saterdag 23 Julie by Mogolklub se funksiesaal gehou word kan dalk net die geleentheid wees waar jy kan leer om met sjokolade te toor.
Nicola het 13 jaar ondervinding in sjokolade-toorwerk en sjokolade is letterlik soos klei in haar hande. Sy gaan demonstreer hoe om sjokolade modeleerklei te maak en dan rosies te vorm. Verskeie tegnieke gaan op dié dag gedemonstreer word – onder andere hoe om sjokoladevere, -bakke en -vorms te maak soos skoene en katte, asook hoe om “marblelized choc bark”, “gelatine bubbles” en patrone met ‘n soldeerbout te maak.
Nicola gebruik gewone kombuisware om haar demonstrasies te doen, daarom is dit toeganklik vir enigiemand. Sal dit nie lekker wees om met jou eie sjokolade-droomskepping by jou volgende familie- of vriende-kuiergeleentheid op te daag nie?
Dié spesiale dag begin om 9:00 tot 16:00, middagete ingesluit.
Die kaartjies kos R200 per persoon. Skakel Ria Strydom by 084 520 0120 om nou jou kaartjie te bespreek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.