Tragedie in Boerboon

Jakes Truter
Jakes Truter

LEPHALALE — Die liggaam van Jakes Truter (51) is Saterdag in die vroeë oggendure deur lede van Lephalale SAPD gevind nadat hulle deur die grondeienaar van die perseel in Boerboonstraat waar Jakes gewoon het, geskakel is.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoord-voerder, was daar niemand anders in die huis toe die polisie daar aangekom het nie.
Die grondeienaar het na bewering aan die polisie vertel dat hy Saterdag omstreeks 00:45 ‘n vrou om hulp hoor roep het. Hy het by sy venster uitgekyk om te probeer sien wat aangaan en het die polisie geskakel. Toe die polisie daar opdaag het hy saam met hulle na die blyplek gestap. Daar was niemand binne nie, behalwe Truter se liggaam met ‘n tou om sy nek. Hy is op die toneel dood verklaar.
Intussen het een van die uitstallers by die Bosveldfees wat in ‘n nabygeleë gastehuis tuisgegaan het, aan Mogol Pos vertel dat hulle omstreeks 02:00 Saterdagoggend wakker geword het van ‘n vreeslike lawaai. “Mense het geskree en gevloek en ons het deur die venster probeer kyk wat aangaan. Mense het in die pad af gehardloop. ‘n Vrou het kort daarna om hulp geroep, maar niemand het gereageer nie” sê sy.
Volgens a.o. Mokoena is ‘n saak vir ‘n geregtelike doodsondersoek by Lephalale polisie geopen, maar geen gemenespel word vermoed nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.