Trauma ná roof

LEPHALALE — CJ de Swardt (21), ʼn studentonderwyser by Laerskool Bosveld Primary, en sy vriendin, Zanelle Kloppers (20), is Donderdagaand 14 September rondom 21:15 by ʼn stopstraat in George Avgosstraat deur vier mans oorval en beroof.
Volgens Corné de Swardt, CJ se ma, het die verdagtes die voertuig waarin hulle gery het se ruit uitgeslaan en die sleutel gevat.
CJ is uit die voertuig geruk en hulle het hom na die bosse langs die pad gevat, hom met ʼn mes en vuurwapen gedreig en hom geslaan en gewurg. Die vier mans het geld en selfone geëis.
Corne sê een van die mans het by Zanelle in die motor gesit en alles deursoek vir geld. Hy het uiteindelik haar skootrekenaar en selfoon gevat sonder om iets aan haar te doen.
Die mans het CJ gelos nadat hulle niks by hom kon kry nie en op vlug geslaan.
CJ was teen druktyd steeds te getraumatiseerd om oor die voorval te praat.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPS Cluster, is ʼn roofsaak geopen. Teen druktyd was die verdagtes steeds op vrye voet. Die ondersoek duur voort.

One Comment on “Trauma ná roof”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.