Tshwara Tsotsi — gelei deur vroue

LEPHALALE — ’n Totaal van 501 mense is verlede week gearresteer vir verskillende oortredings tydens Operasie Tshwara Tsotsi, wat Donderdag 26 September uitgevoer is.

Namane Dickson Masemola, die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, senior lede van Lephalale SAPD, Lephalale burgemeester Jack Maeko, lede van die Lephalale GPF, generaal-majoor Christine Morakaladi, generaal-majoor Julie Hankins, lede van die Suid-Afrikaanse Weermag, plaaslike sowel as provinsiale verkeersbeamptes en doeanebeamptes het deel gevorm van dié operasie wat hoofsaaklik deur senior vroulike polisiebeamptes gelei is.

Die afgevaardigdes se eerste stop was by Phahladira Mall in Shongoane waar verskeie besigheidseienaars ontmoet en toegespreek is.

In Lephalale-dorp is die nagklub House of Galilea deursoek vir moontlike versteekte dwelms of dwelmhandel en twee winkels se deure is gesluit omdat daar produkte verkoop word wat nie meer veilig is vir menslike gebruik nie.

Gesteelde goedere is gevind en dwelmhandelaars is aangekeer. By ’n woonstelblok is woonstelle deursoek vir dwelms, ongelisensieerde wapens of onwettige immigrante.

Die store by NTK is deursoek aangesien inligting ontvang was dat verdagtes reeds die boodskap ontvang het dat daar ’n operasie in die dorp aan die gang is.

Die afgevaardigdes het van daar af na Matlahung in Onverwacht beweeg en die informele nedersettting is deur polisielede en lede van die GPF deursoek. Verskeie onwettige immigrante is deur die plaaslike inwoners uitgewys. ’n Skare mense het saam met die polisie beweeg en gekla dat die mense wat onwettig in die land is hulle werk “steel”.

Daar is ook op Marapong toegeslaan.

Die 105 mense is gearresteer tydens vier padblokkades, 18 stop-en deursoekaksies, 2 201 individue is deursoek en 857 voertuie is deursoek.

Die arrestasies het bestaan uit 27 onwettige immigrante, drie shebeens is gesluit, 2 mense is gearresteer vir die besit van dagga en CAT, twee besighede se deure is gesluit vir besigheid, vier mense is gearresteer vir die oortreding van die drankwet, twee mense is gearresteer omdat hulle in die besit was van onwettige medisyne, een verdagtes is gearresteer vir die besit van onwettige sigarette, 54 verkeersboetes is uitgereik, vyf verdagtes wat deur die polisie gesoek was is gearresteer, een kroeg is gesluit en twee verdagte voertuie is gekonfiskeer.
  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.