Tuisonderrig — ʼn verantwoordelike keuse

LEPHALALE — Die 17-jarige Anuscke Botha is nie vir een oomblik spyt dat sy tuisonderrig bo onderrig by ʼn hoofstroomskool gekies het nie.

Die Botha-gesin het aan die einde van 2010 van Hartbeespoort na Ellisras verhuis nadat haar pa ʼn pos by Exxaro aanvaar het.

Sy het haar graad 3-jaar by Laerskool Bosveld Primary voltooi en daarna oorgeskakel na tuisonderrig.

Die feit dat sy in beide haar laer- en hoërskooljare nie amptelik aan sport en redenaarskompetisies kon deelneem nie was aanvanklik vir haar sleg, maar om dit te oorkom het sy en haar suster (wat ook tuisonderrig ontvang het) aangesluit by Mogolklub se atletiek en “bootcamp”. Hulle is ook baie ernstig oor die parkrun en behoort binnekort hulle 100ste parkrun te voltooi.

Anuscke sê een van die voordele van tuisonderrig is dat sy kan leer wat vir haar belangrik is en dit kan aanwend in haar toekomstige loopbaankeuses. Sy kan ook in ʼn rustige omgewing leer en voorberei vir haar eksamens. “Ek het selfs tyd om aan my kitaaroefening aandag te gee en dit is vir my baie bevredigend.

“Ek is geseënd in die opsig dat ek vir myself verantwoordelikheid kan aanvaar. Ek glo in onderdanigheid en selfdissipline. Meeste van die tyd begin my dag vrywillig voor die haan kraai. Dit is ook vir my uiters belangrik dat alles rondom my altyd netjies en op hul plek moet wees en dat my dag vooraf behoorlik beplan is,” verduidelik sy.

Wanneer sy nie besig is met haar studies nie, geniet sy dit om boek te lees, kitaar te oefen en tyd saam met haar familie deur te bring. Die draf en ander oefeninge wat sy saam met haar suster doen is ook dinge wat sy baie geniet.

Maar waar ontmoet ʼn mens vriende as jy nie skoolvriende het nie?

Anuscke sê dit is glad nie vir haar ʼn probleem nie, sy maak die meeste van haar vriende by die kerk, atletiek en parkrun, maar haar verhouding met God en haar familie is vir haar belangriker as vriende.
 Anuscke sê sy dink kinders wat tuisonderrig ontvang is moontlik meer gedissiplineerd en volwasse as hulle hoofstroom-eweknieë, maar beklemtoon dat dit haar persoonlike mening is.

Anuscke sê haar ouers se besluit om tuisonderrig te kies was gegrond op onder andere die mening dat Christenskap nie meer in skole die nodige erkenning kry wat dit moet nie. Hulle gesin is ook baie geheg aan mekaar en aangesien haar pa se werk hom baie rondgestuur het was tuisonderrig ʼn logiese keuse. “Selfontwikkeling is ook vir my ouers belangrik en sodoende moes ons eienaarskap vat van ons leerwerk en kon ons ook die balans tussen skoolwerk en verantwoordelikheid in en om die huis regkry,” sê sy.

Anuscke se matriekvakke is Wiskunde, Wetenskap, RLA (Reasoning Through Language Arts) en “Social Studies”, asook programmeringskursusse.

Sy volg ʼn Amerikaanse tuisonderrigprogram, Kaplan, se GED (General Education Development) en wil graag na skool haar passie vir programmering uitleef en ʼn webontwikkelaar en -ontwerper word. Sy sal ook graag artikels wil skryf.

Haar groot droom is om eendag ʼn koffiewinkel te open.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.