Twee oorleef val

STEENBOKPAN — “Dit is net genade dat hulle leef,” sê Pieter Lamprecht (42) nadat die Robinson 44-helikopter waarin sy vrou, Lizelle (36) en Johan Cronjé (36), ‘n veearts van Thabazimbi, Vrydag gevlieg het, neergestort en begin brand het.
Volgens Pieter het die voorval Vrydag 11 Augustus omstreeks 08:40 gebeur toe Lizelle en Johan besig was om wild te pyl op hul plaas Somerset Noord. “Hulle het in die rigting van die son gevlieg en dit het hulle half verblind. Toe Lizelle die helikopter lig, toe raak dit ‘n Eskom-kragdraad,” sê Pieter.
Hy sê dit was asof die helikopter vir ‘n oomblik aan die draad “gehang” het voordat dit grond toe getuimel het op die plaas Elysium.
Pieter sê toe hulle tot stilstand kom het Lizelle uit die helikopter geklim en gaan lê, maar toe sien sy rook vanuit die rigting van die helikopter. Sy het ‘n brandblusser gekry en die vlamme doodgespuit en vir Johan gesê hy moet uitklim. Johan het egter vasgesit en kon nie uit nie. Pieter sê ‘n span op die grond het hom letterlik “uit die wrak gebreek.”
Buitelandse jagters, ‘n dokter en ‘n verpleegster, wat op daardie stadium in die veld was, het onmiddellik begin om Lizelle en Johan te stabiliseer en twee mediese helikopters is ontbied.
Pieter sê die mediese helikopters was na meer as twee ure nog steeds nie daar nie en by navraag het hulle gehoor dat daar net een helikopter op pad is.
Pieter was tydens die voorval by Shelante Game Reserve en hulle helikopter het hom na die ongelukstoneel geneem. Edwin Claassen, eienaar van Shelante het toe versoek dat sy helikopter gebruik word om te help om die beseerdes na Pretoria te vlieg.
Lizelle is in die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria opgeneem en Johan in Unitas Hospitaal.
Teen druktyd Woensdagoggend 16 Augustus was Lizelle ontslaan, maar Johan was steeds in die intensiewe sorgeenheid by Unitas. Hy het verskeie frakture opgedoen en ‘n deel van sy milt het gebars. Hy sou Maandag 21 Augustus geopereer word.
Pieter en Lizelle bedank almal wat hulle ondersteun en gehelp het deur middel van oproepe, boodskappe, besoeke en gebede. ‘n Spesiale dankie ook aan Edwin Claassen wat sy helikopter aangebied het toe dit noodsaaklik was.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.