“Twee vaar beter as een”

LEPHALALE — Twee vaar beter as een. Dít weet Tjaart en Claudine du Plessis nadat hulle mekaar na 70 jaar weer gevind het.

Verlede jaar dié tyd was daar nog nie sprake van ’n vriendskap nie. Vandag is Tjaart (84) en Claudine (81) du Plessis al bykans twee maande gelukkig getroud.

Dié twee duifies was saam in die Laerskool Zoutpansdrift in Brits en hulle was van graad 2 tot standerd 2 (graad 4) gekys. “Ons ouers was huisvriende en daarom het ons mekaar gereeld gesien. Ons is daar gebore, gedoop, en ons was in dieselfde gemeente,” vertel Tjaart.

Claudine, ʼn enigste kind, se ma is oorlede toe sy Hoërskool toe moes gaan en sy het vir die res van die jaar by haar oupa en ouma gebly en haar graad 7-jaar aan die Hoërskool Brits voltooi. Daarna is sy na ʼn ander skool en koshuis toe vir die res van haar hoërskoolloopbaan. Tjaart was ook in Hoërskool Brits, maar aangesien hy drie jaar ouer is as Claudine, was hy al klaar met skool toe sy in standerd 7 was.

Tjaart het getrou en vier kinders is uit die huwelik gebore. Sy vorige vrou, met wie hy meer as 60 jaar getroud was, is in Junie 2019 oorlede. Claudine se vorige man is in 1998 oorlede en hulle het twee seuns. Sy het nooit weer iemand in haar lewe gehad nie en was sedert sy dood alleen. Sy het later verhuis na die Bronberg-aftreeoord in Pretoria waar sy gewoon het totdat Tjaart weer in Mei verlede jaar van hom laat hoor het.

Tjaart het Claudine se nommer deur middel van ʼn familielid gekry en haar vier dae voor haar verjaarsdag op 4 Mei geskakel. Sy volgende oproep was om haar geluk te wens met haar verjaarsdag en van toe af het hulle elke dag gepraat. Die twee het dadelik “gekliek” en nie lank daarna nie het hulle elke dag gepraat. Danksy die inperking kon hulle mekaar egter nie sien nie. Later, met die oopstel van die interprovinsiale grense, toe maak Claudine ʼn plan en ry saam met Tjaart se dogter van Pretoria af om te kom kuier. Hulle het daar en dan geweet dat hulle saam wil wees. Claudine se twee seuns wis toe nog van niks!

Tjaart het daarna vir ʼn week by Claudine gaan kuier en sy het hom aan haar seuns voorgestel.

“Dit was aanvanklik ʼn groot skok en hulle was baie gekant teen ons verhouding,” sê Claudine. Die seuns het Tjaart intussen aanvaar en sedertdien is hy en Claudine onafskeidbaar.

Hulle is 5 Desember 2020 vanuit die Gereformeerde Kerk Magol deur ds. Hendrik de Beer getroud. Sowat 60 gaste het hulle tweede kans op liefde saam met hulle gevier. Ds. De Beer se boodskap was uit Prediker 4: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp … “

“Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie,” sê Tjaart.

“Ek wil die hele tyd by hom wees en aan hom vat. Dit is so lekker saam,” sê Claudine met sterre in haar oë.

Mag dié twee Du Plessis’s sáám nog jare se vreugde ervaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.