Twis oor Swartwatergrond

SWARTWATER — Op Maandag 29 April het verskeie grondeienaars van die Lephalale-omgewing by Tom Burke SAPS bymekaargekom om ʼn saak van, na bewering, onwettige grondbesetting van ʼn plaas in Swartwater met die polisie te bespreek.

Grondeienaars van die omgewing was Maandag by Tom Burke SAPD

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale klusterwoordvoerder, het Rudo van Vuuren, die eienaar van die plaas, die plaas ʼn paar jaar gelede gekoop en van die werkers op die plaas het beweer die plaas behoort aan hulle.

Sowat 100+ protesgangers het die pad versper met brandende bande

Die twee partye het volgens ao Mokoena daarna aansoek gedoen om ʼn hofbevel van die Hooggeregshof te kry en die Hof se instruksie was dat die werkers intussen geen permanente strukture op die plaas mag aanbring nie, asook dat Van Vuuren geen verbeteringe of enige strukture aan die oorspronklike struktuur mag aanbring nie.

Volgens inligting was daar teen Maandag heelwat sinkhuise en woonwaens op die grond en het daar sowat 35 mense gebly.

Aan die einde van die dag is ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging geopen nadat van die tydelike strukture na bewering beskadig is. Volgens ao Mokoena het sowat 100+ werkers van die plaas en mense van die omgewing die R572 (Swartwaterpad) toegemaak en bande aan die brand gesteek omdat hulle volgens die polisie “kwaad” was vir Van Vuuren.

Die burgemeester van Blouberg sowel as van Lephalale, lede van POP (Public Order Policing) en veiligheidsgroepe was op die toneel en die skare is tot bedaring gebring.

Volgens ao Mokoena het brig John Masia, Lephalale klusterbevelvoerder, die skare toegespreek en die partye het ʼn ooreenkoms geteken dat Van Vuuren water en elektrisiteit aan die werkers sal voorsien totdat die Hooggeregshofsaak, wat eienaarskap van die grond sal bepaal,
afgehandel is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.