Uit die voorsitterstoel:

Ten spyte van talle uitdagings is die Bosveldfees 2017 hier. Die bestuurskomitee moes ‘n hele paar hase uit groot hoede pluk, maar ons het dit gedoen en dit is met groot vreugde en afwagting dat die ons uitsien na vanjaar se Bosveldfees.
Dit is vir ons ‘n groot voorreg om aan te kondig dat daar verskeie nuwe items op die program is om na uit te sien soos “stunt bike”, “beatboxing” en valskermvertonings.
Die Tour de Bos fietswedren volg ook vanjaar ‘n nuwe roete. Die feesterrein spog met ‘n nuwe uitleg en feesgangers gaan die geleentheid hê om binne die terrein te parkeer – daar is ongelukkig net 150 plekke beskikbaar.
Ou staatmakers soos die potjiekoskompetisie, 4×4-wedren en hondeskou asook vele meer is weer op die spyskaart.
Daar is daagliks uitstekende vermaak op die hoofverhoog en feesgangers kan Jo Black, the Dixie Hillbillies en Prime Circle se talente gaan aanskou.
Die biertuin is oop van vroeg tot laat. Kom kuier gerus saam met ons en wandel deur die wye verskeidenheid van stalletjies of kom kyk na die pragbeeste en kry iets te ete of te drinke.
Graag wil ek as voorsitter van die geleentheid gebruik maak om elke lid van die Bosveldfeesdagbestuur en -komitee en hulle families opreg te bedank vir die onbaatsugtige opoffering wat hulle maak om deel te wees van die Bosveldfeesspan. Dit verg baie lang ure se harde werk sonder vergoeding om so ‘n fees aanmekaar te sit. Elkeen van julle se bydrae word opreg waardeer, want sonder elkeen van julle kan ons dit nie doen nie.
Ons wil ook die gemeenskap bedank vir julle ondersteuning, sonder julle kan die Fees nie ‘n sukses wees nie.
Die komitee het baie moeite gedoen om seker te maak die Bosveldfees is een van die Bosveld se uitstaande geleenthede.
Ons sien uit daarna om saam met elkeen van julle te kuier by die Bosveldfees 2017.
— Feesgroete
Johan Koekemoer

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.