Uitblinkers sê só!

“Dis oor elke val se opstaan en afstof”

Verstandig, “cool” en slim – Marnique Gadda is ʼn uitblinker

LEPHALALE — Marnique Gadda, 2018-matrikulant aan en hoofdogter van Hoërskool Ellisras, is vanjaar nie net aangewys as die heel beste RTT-leerder in Limpopo nie, sy is ook benoem as derde beste algehele presteerder in die Waterbergdistrik.

Mogol Pos het gaan inloer en uitgevind dat sy boonop ʼn baie “cool” persoon is.

Marnique bly van 2006 af (graad R) in Lephalale. In haar graad 10-jaar het sy die besluit geneem dat dit haar groot jaar gaan wees betreffende akademie, maar “ek het eers in graad 11 alles gegee,” sê sy.

Sy was van graad 8 af deel van die top-10-presteerders in haar graad en vanaf graad 1 was sy eerste in die top 10.

Haar gunsteling vakke is biologie en wetenskap (nie wiskunde nie). “Ek lees my werk hardop vir myself en ek lig selfs soms my stem vir myself. Vir wiskunde werk ek ou vraestelle uit en werk deur die afgelope jaar se werk.”

Glo sy daaraan dat mens hard kan speel as jy hard werk? “Wel ek het hard gewerk en kon genoeg reekse (series) kyk om gelukkig te bly, so ek glo mens kan hard speel as jy hard werk,” verduidelik sy.

Marnique sê haar motivering om so hard te werk is omdat sy keuring wou kry om medies (MBChB – Baccalaureus in Genees- en Snykunde) te kry.”Ek wou nie later spyt wees nie,” sê sy.

Haar harde werk was nie verniet nie en teen druktyd het sy laat weet sy gaan nou “amptelik” medies studeer aan die Universiteit van Pretoria. “Ek het finale keuring gekry asook plek in die koshuis.”

Haar raad betreffende die akademie is dat jy jou huiswerk moet doen en moet oplet in die klas, dan hoef jy nie so hard te leer nie. “Maar jy moet maar liewer sê jy leer hard,” spot sy.

Haar raad vir ʼn gesonde sosiale lewe is om nooit “nee” te sê vir ʼn kuier nie, behalwe voor ʼn wiskunde- of wetenskapvraestel.

Sy gaan haar matriekvriendinne en die onderwysers wat saam met haar gestres en haar altyd bygestaan het as sy moedeloos was, die meeste mis.

Oor haar prestasie as derde beste presteerder in die Waterbergdistrik sê sy: “ek het niks gevoel nie, dit het eers later ingesink. Ek dink ek was geskok … en die beste in Limpopo in RTT? “Ek en my RTT-juffrou het daarvoor gewerk, maar ek’t nooit gedink ek sou dit kry nie – sy het dit heelpad geglo!”

Marnique is ʼn jong vrou met ʼn verstandige lewensuitkyk. Oor toekomsplanne sê sy: “kry iets wat jy sal doen al word jy nie betaal daarvoor nie, dan weet jy jou hart is daarin. Moenie jouself druk om te weet wat jy gaan doen nie – ons het nog baie tyd. Niemand kan op jou neersien net omdat jy nie dadelik gaan studeer of werk nie. Werk net hard en moenie vir jouself limiete stel of toelaat dat ander jou potensiaal beperk nie. Ons prestasies op skool gaan nie ons sukses in die lewe bepaal nie – dit gaan oor elke val se opstaan en afstof.”

(Baie sterkte met jou studies Marnique, mag al jou drome waar en al jou verwagtinge oortref word – Red)

Doelwit en balans vir Carli

LEPHALALE — Carli Liversage, 2018-matriekleerder aan Hoërskool Ellisras is onlangs as die algehele beste presteerder in die Waterbergdistrik aangewys. Sy sê sy was baie verbaas en opgewonde toe haar naam geroep word, want sy het dit glad nie verwag nie.

Carli was vir haar hele hoërskoolloopbaan by Hoërskool Ellisras en sy het ʼn doelbewuste besluit geneem om hard te werk sodat sy in die rigting van haar keuse kan gaan studeer na skool.

Alhoewel sy van graad 8 af deel was van die top-10-presteerders in haar graad, was sy nooit die topleerder van haar graad nie – nóú is sy die toppresteerder in die Waterbergdistrik!

Haar gunsteling vakke is wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde, maar tale maak haar nie noodwendig opgewonde nie.

Haar studiemetode behels dat sy al die werk opsom om eers die teorie onder die knie te kry en daarna werk sy vraestelle uit om te sien hoe word die werk gevra.

“Ek glo wel daarin dat as mens hard werk dan kan jy hard speel, maar ek glo ook in matigheid. Jy moenie oorboord gaan met dit wat jy doen nie, of dit nou werk is en of dit nou speel is,” sê Carli.

Haar motivering om hard te werk was haar keuring vir veeartsenykunde – “dis ʼn baie moeilike rigting, maar dit is wat ek graag wil doen.”

Carli begin binnekort met haar BVSc (Veeartsenykunde)-graad by die Universiteit van Pretoria.

“Ek gaan my vriende en die onderwysers die meeste mis van skool en my boodskap aan alle hoërskoolleerders is om ʼn doelwit te kry waarna jy werk. As jy nie ʼn doelwit het nie, sal jy nie gemotiveerd wees om hard te werk nie. Besluit vroegtydig wat jy wil gaan studeer en werk aan jou keuring voor dit te laat is. Moenie jou sosiale lewe weggooi nie, maar moet ook nie jou studies afskeep om sosiaal te verkeer nie. Kry ʼn balans tussen jou studies en jou sosiale lewe,” sluit sy af.

(Verstandig, hardwerkend, vasberade en sy glo in balans – ʼn wenresep vir ʼn blink toekoms. Alles van die heel beste met jou studies Carli – Red)

Beste wetenskap-onnie in Waterberg

“Nommer een in Waterberg!” Sarette le Roux en Adriaan Joubert, skoolhoof van Hoërskool Ellisras

LEPHALALE — Sarette le Roux van Hoërskool Ellisras is verlede week aangewys as die beste onderwyser in fisiese wetenskap in die Waterberg-distrik. Sy gee fisiese wetenskap vir graad 11- en 12-leerders.

Mogol Pos het haar beter leer ken en uitgevind waarom sy so ʼn uitstekende onderwyseres is.

Sarette het ʼn graad in Huishoudkunde en Voedseldiensbestuur met fisika, chemie en biochemie as hoofvakke. Sy het later ook wiskunde as ekstra vak geneem en haar Honneursgraad in B.Ed verwerf.

Dié ervare onnie hou al vir 30 jaar lank skool – waarvan sy reeds 28 jaar lank wetenskap gee.

Wetenskap is ʼn lewende, bitter interessante vak,” sê sy.

Sarette sê die beste manier om moeilike werk aan kinders oor te dra is dat die onderwyser die werk só goed moet verstaan dat jy dit op verskeie maniere aan die kind kan oordra totdat jy seker is leer het plaasgevind. “Geduld, geduld en nog ʼn bietjie geduld. Mens gee nooit, ooit moed op met ʼn kind nie. Elke kind is belangrik en uniek en moet sodanig hanteer word. Ek maak maar baie foute maar ʼn mens probeer iets anders as jou planne misluk,” verduidelik sy.

“Die toekenning beteken vir my dat die matrieks van Hoërskool Ellisras van 2018 puik was. Hierdie toekenning behoort aan al die matrieks van 2018. Hulle is die kinders wat daarvoor gewerk het en ek is ongelooflik trots op hulle.”

Wat hou haar nederig? “Die feit dat ek weet dat alles net genade is. Dat ek nog bitter ver van volleerd af is. Elke liewe dag is ʼn leerskool en op wetenskaplike gebied is daar elke dag nuwe ontwikkelinge. Dit voel partykeer of jy eintlik niks weet nie”.

Haar boodskap vir voornemende wetenskapleerders is: “Ons het ʼn gesegde in die klas wat sê: ‘science is logic’. Teken ʼn prentjie en dink logies. Harde werk maak wetenskap maklik, maar jy moet elke dag werk”.

Sarette sê sy is ontsettend trots op haar oud-leerders. “Ons het talle oud-leerlinge wat puik presteer op verskeie terreine. Hulle moet ook onthou dat die lewe baie keer vol ompaaie is, maar jy moet net nooit, ooit moed opgee nie. ‘Never ever give up hope. God has a plan. Trust it. Live it. Enjoy it.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.