Uithourit soos min!

Die Fauresmith 206 km-uithourit, waaraan 316 perderuiters vanjaar in Julie deelgeneem het, word bestempel as een van die moeilikste ritte ter wêreld. Nie soseer oor die afstand nie, maar omdat ruiter en perd vir drie aaneenlopende dae lang afstande moet voltooi in die ysige, reënerige Vrystaatweer.

Die 16-jarige Janco de Bruin, ’n leerder van Hoërskool Ellisras en lid van Mogol Perdryklub, het op 2 Julie aan dié droomrit deelgeneem, waar ruiter en perd se uithouvermoë getoets word. Janco het 440 km kompeterend deur die seisoen afgelê ter voorbereiding vir Fauresmith.

“As die perd se kop nie reg is nie, gaan staan hulle soms net, veral as die vlaktes voor hulle uitstrek. Al wat jy dan kan doen is om maar af te klim en die pad saam met jou kameraad te stap tot jou perd weer moed kry of ander perde julle ingehaal het. So dit vat regtig baie wilskrag en voorbereiding van al twee se kant af,” verduidelik Janco.

Janco het op ’n geleende perd gery, BF Ninja, wat beteken hy kon nie vooraf op die perd oefen om hom te leer ken nie. Om dan steeds klaar te maak en boonop 15de uit 52 junior ruiters klaar te maak teen ’n gemiddelde spoed van 19,34 km/h is ’n uitmuntende prestasie! Janco bedank Jaco en Dalene Pretorius vir hulle harde werk om vir BF Ninja te oefen en fiks te kry en vir die voorreg om hom te kon ry.

Daar is nege veeartspunte waardeur die perd moet gaan om seker te maak hulle kan voortgaan met die rit. Dit begin met ’n vooraf veeartsondersoek om te kyk of die perde in ’n goeie toestand is om die afstand af te lê. By die veeartspunte word onder meer na hartkloppe per minuut, dehidrasie en tekens van mankheid gekyk om seker te maak die perd is reg om aan te gaan. Perd en ruiter moet beide kwalifiseer in die voorafgaande seisoen deur aan 3 x 80 km-uithouritte deel te neem. Hulle hoef dit nie noodwendig as ’n kombinasie te doen nie.

Uithouritte is ’n sport vir enigiemand en dit betrek die hele familie, van jonk (9 jaar) tot oud! Die 81-jarige Ami de Wet het vanjaar aan sy 43ste Fauresmith deelgeneem en dit was die eerste keer dat hy op die eerste been uitgeval het. Lenél van Staden en Jansen Pretorius is ook Ellisrassers wat aan die rit deelgeneem het, maar ongelukkig het hulle nie klaargemaak nie.

“Hopelik is daar volgende jaar meer Ellisrassers wat die koue gaan aandurf,” sê Janco.

Skakel Lenél van Staden by 072 786 0742 of Liezl de Bruin by 083 305 9779 vir meer inligting oor uithouritte of besoek die Uithouritvereniging van SA se webblad by www.erasa.co.za

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.