Vakansieskool met verskil

Bybelskool

LEPHALALE — Die Sewendedag Adventiste-kerk het die afgelope week hulle tweede suksesvolle vakansie-bybelskool aangebied. Vanjaar se tema was Die Bybeltrein.
Die kinders het elke dag by ‘n ander “stasie” gestop om meer te leer oor Jesus se lewe.
Die dag se aktiwiteite het ‘n kunsprojek, buite-speletjies en ‘n wetenskapeksperiment ingesluit wat gepas het by die dag se tema. Hulle het meer geleer oor gesonde lewens- en eetgewoontes in ‘n bak-en-brou-les en die groteres het ook die touknoopsessies saam met oom Gert geniet.
Die vol program met twee etes elke dag en ‘n springkasteel vir speeltye het die kinders nie net konstruktief besig gehou nie, maar hulle het ook geleer en die geleentheid gehad om ‘n verhouding met Jesus te bou.
Die hoogtepunt van die program was die konsert en graduasie wat Saterdag 16 Julie gehou is waartydens elke kind ‘n sertifikaat vir die bywoning van die vakansie-bybelskool en gesondheidsklasse gekry het, asook bak-en-brou resepteboeke en geskenke. Die dag is afgesluit met ‘n vingerete en gesellige kuier.
Die Adventiste kerk bedank almal wat bygedra het tot die sukses van ‘n heerlike week. Hul moedig mense aan om die kalender dop te hou vir volgende jaar se vakansie-bybelskool, en beloof dat kinders ewigheidswaarde daaruit put.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.