Valentynsbal ‘n behoorlike opskop

Fransa de Beer
LEPHALALE — Die leerders van Hoërskool Ellisras het Donderdag 11 Februarie in gietende reën ‘n groot opskop gehou om Valentynsdag te vier. Die organiseerders het amper benoud geraak toe die swaar weer die elektrisiteit uitslaan en die gietende reën die saal in ‘n dam verander het.
Die wonderlike ondersteuning van ouers wat blitsvinnig kragopwekkers aangery en gehelp het om die ergste water uit die saal te vee en met komberse en handdoeke op te droog, het egter daartoe bygedra dat die kinders ‘n onvergeetlike aand gehad het.
Die seuns en dogters was deftig uitgevat, maar dit het hulle nie daarvan weerhou om uitbundig te dans en die aand voluit te geniet nie. Mogol Pos het ‘n paar van die leerders gevra of die kos lekker was en hulle kon nie uitgepraat raak oor die heerlike kos en malvapoeding en vla vir nagereg nie. Dit was ‘n aand van swier en jolyt.
Een van die hoogtepunte van die jaarlikse Valentynsbal is natuurlik die aankondiging van Meneer en Mejuffrou Valentyn. Dié toekenning gaan gewoonlik aan die seun en dogter wat die spoggerigste aangetrek is. Vanjaar se Mnr. Valentyn was niemand anders as die hartebreker Dirkie Strydom nie. Leandri van Deventer het langs hom gesprankel as vanjaar se Mej. Valentyn.
Skoolhoof Louis Campbell het vanjaar se leiers hartlik bedank vir hulle puik reëlings en die groot geesdrif waarmee hulle dié projek aangepak het.
Gideon de Jager en Adri Gerber bedank die ouers wat entoesiasties met die organisasie gehelp het, asook die lede van die gemeenskapspolisiëring (GPF) wat die leerders se veiligheid verseker het.

Sien foto’s op on Facebookblad!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.