Van model na zombie

Leoni Kruger
LEPHALALE — Carré-Lee Armstrong (19) was verlede jaar ‘n matrikulant aan die Hoërskool Ellisras toe die ontwerper van haar rokke (Carré-Lee is ‘n model en neem reeds van jongs af aan kompetisies deel) vir haar vra of sy sou belangstel om as “ekstra” in Afrikaanse sepies op te tree. En natuurlik sou sy dit graag wou doen – watter jong meisie sou nie so ‘n geleentheid aangryp nie?
So het sy vir “Shane” ontmoet en verskeie kere rolle as “ekstra” op die stel van 7de Laan en Binnelanders vertolk. Shane is ‘n agent vir sepies soos 7de Laan en Binnelanders. Shane het op sy beurt ‘n hele klomp mense verwys na Madeleine wat ‘n agent is vir buitelandse filmmakers.
In Maart 2015 (haar graad 11-jaar) kry Carré-Lee ‘n opdrag van Madeleine om ‘n vollengte en kop-en-skouerfoto van haarself in te stuur. Dis waar die groot avontuur begin het.
JP, die regisseur van die fliek Resident Evil, The Final Chapter, laat weet na drie maande dat Carré-Lee gekies is as een van die “background zombies” in die fliek. Carré-Lee moes die heeltyd haar selfoon dophou in geval hy bel en gelukkig het haar ouers dit aan die skool verduidelik dat sy wel soms haar foon sal moet antwoord in skooltyd. Die “zombies” moes binne ‘n week Pretoria toe gaan om hulle klere aan te pas en reg te kry.
Die film is gedurende September 2015 in Pretoria geskiet en ‘n groot deel daarvan op drie brûe wat oor die N4-snelweg loop. “Ons moes onder aan die brûe hang en swaai en ons dae het meesal rondom 06:00 begin en eers om 21:00 geëindig.
Die storielyn is in kort dat die zombies die aarde wil oorneem en Alice, die hoofkarakter, wou hulle keer om dit te doen. Alice probeer die zombies vernietig.
Carré-Lee sê hulle het verskriklik baie gehardloop agter “aas” aan wat die zombies lok en sommige tonele is honderde kere oorgeskiet. Hulle is ook met “paintball-balle” geskiet – Carré-Lee is onder andere in haar nek geskiet.
Die zombies is uiteindelik uitgeroei deur middel van teenmiddels wat Alice gehad het. (Die zombies het ontstaan as gevolg van ‘n middel teen ‘n siekte wat skeefgeloop het).
Vir Carré-Lee was die ergste om elke aand haar hare te was. Dit was ‘n hele proses, want hulle sit stroop, wasgoedseep, poeier en alkohol in jou hare om dit so wild te laat staan en hard te maak. Dan moet mens boonop jou mond oopmaak sodat hulle jou tande kon spuit met swart koekkleursel en charcoal. Sy moes ook haar grimering met alkohol verwyder.
Die film is in Januarie vanjaar in Suid-Afrika vrygestel en dit wys tans op Box Office.
Die grootse les wat sy hieruit geleer het is dat toneelspel glad nie maklik is nie. Dit is harde werk en mens raak doodmoeg as jy een toneel oor en oor moet herhaal. Ek het later gedroom van “cut” en “play”.
Sy sal dit enige tyd weer doen, maar nou moet haar studies eers aandag kry. Sy studeer tans Somatologie aan die Tina Scholtz Akademie in Potchefstroom en vir die volgende drie jaar is dit haar missie. Miskien as die geleentheid hom voordoen in vakansietye? Definitief ja, die ektra geld en ondervinding is nie te versmaai nie!
Carré-Lee is ook ‘n finalis vir Mej Bosveld 2017.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.