Van wurmpie na skoenlapper — Marlothii-matrikulant!

LEPHALALE — Marlothii Tuisonderrigsentrum, met Corney Myburgh aan die stuur, spog vanjaar met ʼn slaagsyfer van 93.78% en 55 onderskeidings vir leerders vanaf graad 1 tot 12.

Marlothii se 2018-matrikulant, Chanè van Zyl, het in die middel van haar graad 10-jaar by die Marlothii’s aangesluit en in 2018 haar matriek voltooi.

“Ons is baie trots op Chanè. Ons wurmpie het ʼn pragtige skoenlapper geword. Mag jy – waar jy ook al beweeg – uitstaan soos die Marlothii in die veld,” sê Corney.

Volgens Corney kry elke jaar se matriekgroep ʼn naam met ʼn unieke betekenis – dié naam word gekies op grond van ʼn samestelling van die graad R- of graad 1-leerders se name.

Die 2018-matrieknaam was JOY.

Corney verduidelik: “ons ervaar baie ‘joy’ deur die loop van ons lewe – die pad wat ons saam met Chanè geloop het was soms vol trane, baklei en hard praat, maar ons het mekaar altyd met liefde en respek behandel. ‘Joy’ beteken vreugde en dit is wat Charnè vir die Marlotthii’s sowel as haarself gebring het met die beëindiging van ʼn suksesvolle skoolloopbaan,” sluit Corney af.

Die 55 onderskeidings is as volg bereken:
Die graad 1-groep behaal vyf onderskeidings, graad 2 – drie onderskeidings, graad 3 – vier onderskeidings, graad 5 – vyf onderskeidings, graad 6 – vier onderskeidings, graad 7 – een onderskeiding, graad 8 – twee onderskeidings, graad 9 – agt onderskeidings, graad 10 – 10 onderskeidings, graad 11 – drie onderskeidings en graad 12 – twee onderskeidings.

Sukkel jou kind om in hoofstroomskole aan te pas? Is jy raadop en moedeloos? Gaan maak ʼn draai by Marlothii Learning Academy – daar is ʼn uitweg vir elke kindl

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.