Varkplaas gedreig, gevandaliseer

Die dreigement wat Maandagaand by die Vusithemba Piggergy gelos is
Die dreigement wat Maandagaand by die Vusithemba Piggergy gelos is

VAALWATER — Die eienaar van die Vusithemba Piggery, Anton Mecchi, is baie ontsteld nadat verdagtes sy varkboerdery Maandagaand 23 Mei onwettig betree en gevandaliseer het.
“Ons laai altyd Dinsdagoggende varke op vir Enterprise en ek en my werkers was voor 5:00 vanoggend reeds by die boerdery. Ek het dadelik onraad vermoed toe ek langs die varkhuise indraai en water oor die pad sien loop,” sê Mecchi.
Met verdere ondersoek het Mecchi en sy werknemers besef dat verdagtes die plaas deur die loop van die nag onwettig betree het. Al 20 varkhuise se manifold-rioolpype is uitgetrek en die varkafval (slurry) dam se dreineringpyp is ook voluit oopgedraai.
Varkafval en water het oral in en om die hokke asook die werkswinkel gestroom.
“Dit was nou wel nie ʼn goeie manier om my stormwater- en krisisbeheer te toets nie, maar ek kon gelukkig vir die eerste keer sien dat dit werklik werk. Hier was genoeg sisteme in plek om die “slurry” te stop voordat dit skade aan die omgewing of waterbronne kon aanrig,” het Mecchi met verligting gesê.
“Ek gaan wel die insident aan die Blou Skerpioene moet rapporteer en dit gaan ʼn hele aantal dae neem om alles op te ruim. Dit is regtig ook vir almal van ons onaangenaam om in die vark “slurry” te werk” sê Mecchi.
“Ek is so moeg vir mense regoor Suid Afrika wat sommer net wet in eie hande wil neem of totaal wetteloos optree. Ek weet dat ʼn varkboerdery nou nie almal se gunstelingplek is nie, maar al my lisensies is in plek en ek doen alles wat menslik moontlik is om die boerdery goed en volgens wet te bestuur,” het Mecchi vir Mogol Pos gesê.
ʼn Saak van opsetlike saakbeskadiging en betreding is reeds by die Vaalwater polisie geopen per MAS 62/5/2016. Niemand is nog in dié verband in hegtenis geneem nie.
“Ek het ʼn vermoede wie vir die skade, dreigemente en vandalisme verantwoordelik kan wees en ek het dit in my verklaring aan die polisie deurgegee,” sê Mecchi.
Mecchi het twee maande gelede ‘n dreigbrief in sy plaashek gevind en die verdagtes het Maandagaand ook ‘n dreigement agtergelaat dat Mecchi aan nog verdere vandalisme blootgestel sal word indien hy nie sy boerdery staak en die deure sluit nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.