THABAZIMBI — Drie Zimbabwiese burgers is Vrydag 2 November te Koedoeskop naby Thabazimbi deur lede van die Heritage Protection Group gearresteer nadat ʼn wenk ontvang is dat die mans onwettig vis met ʼn net gevang het.
Volgens Sakkie Louwrens van HPG het die mans beweer hulle het die vis in Bela-Bela gekry, maar volgens inligting is die vis in die besproeiingsdam van ʼn grondeienaar in die omgewing gevang.
Volgens Louwrens is hulle aangekla daarvoor dat hulle onwettig in die land is sowel as vir onwettige vang en besit van ʼn groot hoeveelheid vis.
Hulle het Maandag in die Landdroshof in Thabazimbi verskyn en teen druktyd was hulle steeds in aanhouding in Thabazimbi se polisieselle.