Veiligheidsplan vir dorp

Thys Eloff, voorsitter GPF Lephalale, luitenant-kolonel Daniel Ramkgoakgoa, stasiebevelvoerder: Lephalale SAPD en kaptein Mabila, bevelvoerder: VISPOL

Ria Wells
LEPHALALE — ‘n Strategiese veiligheids-beplanningsvergadering is Woensdagaand 17 Mei by Pioneer Lodge gehou om planne in werking te stel in geval van enige onluste-situasies in die dorp.
Die onlangse gebeure in Coligny het die noodsaaklikheid om voorsorg te tref dat Lephalale nie onvoorbereid die slagoffer word van soveel chaos, wetteloosheid en geweld nie, uitgelig. Dit geld ook in geval van vloede en ander natuurrampe.
Thys Eloff, GPF-voorsitter, het die vergadering gelei wat goed deur die gemeenskap en veral besigheidslui bygewoon is. Die doel van die vergadering was om inwoners te betrek om die SAPD en ander groot rolspelers in die dorp by te staan deur middel van ‘n veiligheidsplan wat die veiligheid van alle inwoners en hul eiendom verseker teen enige gebeurlikheid gelykstaande aan dit wat in Coligny gebeur het.
Thys het dit duidelik gestel dat die vergadering daargestel is slegs om voorsorgmaatreëls te bespreek, maar die SAPD bly steeds die primêre rolspeler. Die veiligheidsplan sal afwentel na instansies soos die GPF, LCSD, CSF en Munisipale nooddienste, sowel as dié van Medupi, Matimba en Exxaro. Ambulansdienste en alle verkeerspersoneel en privaat sekuriteitsdienste sal ook betrek word.
Sekondêre rolspelers is besigheidseienaars, geboueienaars, gemeenskapsleiers, welsynsorganisasies, klinieke en hospitale.
Thys het in kort verduidelik hoe ‘n operasionele plan werk en gesê dat die SAPD nie self enige aksie kan neem in geval van enige groot gebeurlikheid nie. Hulle moet staatmaak op POPS (Public Order Policing) wat uitsluitlik getaak is om onluste te beheer. “Die naaste POPS is in Modimolle gestasioneer en daarom is dit van kritiese belang dat almal deel van die veiligheidsbeplanning van die dorp moet wees, al is dit net om seker te maak dat jou werknemers weet hoe ‘n brandblusser werk” het Eloff gesê.
‘n Komitee is saamgestel en ‘n ernstige versoek is gerig dat elkeen wat enige hulpbron beskikbaar kan stel wat in ‘n onlustesituasie gebruik kan word bv. vuurvegters, werktuie, informante, ens. dit in ‘n opvolgvergadering op ‘n databasis sal laat plaas. Hou Mogol Pos dop vir ‘n datum, tyd en plek.
Luitenant-kolonel Daniel Ramkgoakgoa, stasiebevelvoerder van SAPD Lephalale, het die vergadering toegespreek en die belangrikheid van ‘n veiligheidsplan waarvan die hele gemeenskap deel moet vorm benadruk. Hy het gesê die moontlike uitbreek van enige onluste in die dorp kan in die kiem gesmoor word wanneer almal saamwerk.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.