Verberg jou wapen

Dit is onwettig om jou wapen so te dra en jy kan aangekla word
Dit is onwettig om jou wapen so te dra en jy kan aangekla word

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit is deesdae ‘n heel algemene verskynsel dat mense gewapen is vir selfverdediging. Dit opsigself is nie ‘n probleem nie, solank as die wapen gelisensieer is en die eienaar ‘n lisensie het om die wapen te kan gebruik. Volgens Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is dit wel ‘n probleem wanneer die wapen sigbaar is. En volgens Eloff is dit deesdae ‘n tendens wat al hoe meer voorkom – mense loop in die publiek met ‘n vuurwapen in die sy, oop en bloot vir almal om te sien.
Die Wet op die Beheer van Vuurwapens, Wet nommer 60 van 2000 artikel 98 (5) (a) stipuleer dat ‘n persoon in uniform (byvoorbeeld ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie), wanneer die werknemer van die amptelike instelling soos die SAPD aan diens is en amptelike pligte verrig, die vuurwapen in ‘n pistoolsak aan die persoon gedra word. Die sak moet so gemaak wees dat dit toegerus is met ‘n veiligheidsknip om die vuurwapen sekuur te hou en die pistoolsak mag openlik gedra word.
In gewone klere moet die vuurwapen gedra word in ‘n pistoolsak wat aan die persoon of deur die persoon gedra word en dit moet toegerus wees met ‘n veiligheidsknip om die wapen sekuur te hou en die pistoolsak moet VERBERG wees.
Adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder het bevestig dat ‘n wapen slegs sigbaar mag wees as byvoorbeeld ‘n lid van die SAPD ‘n uniform dra.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.