Verdagte fnuik vele

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Verdagte man het verlede Maandag naby die Tafelkop by die hek van ‘n plaas ingestap na die huis toe, waarna hy deur die huiswerker gesien is. Volgens Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die huiswerker alarm gemaak, waarna die verdagte weggehardloop het.
Eloff sê hy was in sy voertuig op pad terug na Lephalale toe hy die oproep kry en hy het dadelik van sy GPF-reaksielede geskakel om te help met spoorsny. Lede van die gemeenskap het ook reageer en die man se spoor is gevolg. Volgens Eloff het hulle die voorval as ‘n moontlike plaasaanval hanteer, want hulle het gereken indien iemand iets wil steel sal die persoon nie sommer oop en bloot na die huis toe stap nie.
Verskeie roetes is toegemaak en sy spoor is gevolg. Volgens een van die mense wat ook spoorgesny het was die spoor van ‘n redelike groot skoen – waarskynlik ‘n 10 of 11-skoen. Dit word ‘n “combat boot” genoem. Die verdagte het van die Tafelkop af in die rigting Shongoane beweeg en volgens die spoorsnyers is hy nie ‘n nuweling nie. Hy doen teenspoorsny, trek sy een skoen agterstevoorom aan, loop op blare, dan weer kaalvoet, loop op die heinings, loop in sirkels of blokke en weer terug oor sy eie spore. Dit is dus baie moeilik om hom te volg.
Woensdag 9 Maart is ‘n vars spoor van net een persoon by Bergsig Lodge opgemerk. Volgens die eienaars was daar nêrens ingebreek nie, maar die verdagte het ‘n sak, stoelkussing en tweeliterbottel in die stoor gevat. Volgens die spoorsnyers het hy egter alles gelos toe hy besef hy word gevolg. Vanaf Bergsig is hy deur Diepspruit toe waar omtrent 12 mense sy spoor gevolg het. Hy het egter presies dieselfde gedrag as die verdagte by bogenoemde insident getoon en Eloff meen dié man is ‘n ervare misdadiger. “Sy modus operandi lyk baie soos die optrede van iemand wat voorheen in die gevangenis was en dalk sy vonnis uitgedien en vrygelaat is” sê Eloff.
Vorige soortgelyke inbrake waar daar hoofsaaklik kos gesteel is – meesal by plekke waar daar nie permanent mense woon nie – is die plaas Du Pont van Evan Price en Mujabe Game Farm van Jacques Belot.
By een van die mees onlangse plase waar hy ingebreek en goedere gesteel het, was by die plaas Drakensberg van Dieter Mandlmeier verlede Woensdagnag. Volgens Dieter het hy elke kamer in die jagkamp geplunder, vyf pakkies vleis uit die vrieskas geneem en vir homself ‘n groot maaltyd gemaak. Dit lyk of hy na sy groot maal gerus het op die leunstoel op die stoep en homself lekker knus toegedraai het in ‘n kombers. Volgens Dieter het hy onder andere beddegoed gesteel. Die grootste skade wat hy gedoen het is om die skuifdeur uit die muur te ruk om in die sitkamer te kom, maar hy het niks daar gesteel nie!
Dieter bedank almal wat deel gehad het in die poging om die kalant vas te trek, tot dusver sonder sukses.
Eloff sê ook dat daar ‘n paar jaar gelede ‘n soortgelyke geval was van ‘n man wat kilometers geloop het – onder andere vanaf D’Nyala tot in Shongoane. Hy het deur die plase geloop en meesal net kos en water gesteel – gewoonlik op plekke waar daar nie permanent mense woon nie. Hy is uiteindelik naby Lephalale aangekeer waar hy gemaak het asof hy een van die werkers op die land is. Dit was nadat hy die polisie en spoorsnyers maande lank ontglip het.
Hy het moeiteloos oor elektriese heinings gespring en selfs ‘n helikopter kon hom nie opspoor nie.
Enigiemand met enige inligting oor soortgelyke voorvalle, skakel Thys Eloff by 082 588 8305.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.