Verdagte loop hom vas

Leoni Kruger
LEPHALALE — Mariska Ehlers en haar ma, Thea Pelser, het verlede Donderdagoggend 19 Mei ‘n vermeende inbreker op heterdaad betrap terwyl hy besig was om van Thea se goed weg te dra vanuit kratte voor haar tuinwoonstel in Albertstraat. Sy is nog besig om in te trek nadat sy onlangs na Lephalale verhuis het.
Volgens Mariska het Thea haar kleinkinders die oggend skool toe geneem. Terug by die huis sien sy ‘n vreemde persoon in die erf besig om van haar goed in ‘n sak te druk. Sy skree toe vir hom “what are you doing here” en hardloop na die huis toe. Mariska, wat in die woonhuis op die erf woon, hoor haar ma en sy hardloop uit. Mariska het die verdagte aan sy arm beetgekry en sy sê sy het bly vashou aan sy arm, want sy wou hom nader aan haar hek probeer kry omdat daar ‘n kwaai hond is. Met die sak vol goed wat hy gevat het steeds in sy hand vra hy so ewe vir Thea: “can I take this stuff with me?” Die man het net hierna losgeruk en weggehardloop. ‘n Motoris wat by hulle huis verbygery het, het agter die verdagte aangery, maar hy het weggekom.
Intussen was hulle die hele dag op die uitkyk vir hom.
Toe Mariska Donderdagmiddag haar kind by Laerskool Ellisras se kleuterskool gaan haal sien sy die verdagte tussen die voertuie by die sportgronde ronddwaal. Sy skakel vir Thea om soontoe te gaan sodat sy kan bevestig dat die man wat daar ronddwaal dieselfde persoon is wat die oggend in haar erf was. Een van die mans wat by die rugbyveld was het die verdagte weggejaag en toe hardloop hy na die BP-vulstasie oorkant die pad.
Toe die verdagte hulle sien het hy blykbaar in ‘n voertuig wat daar staan om brandstof in te gooi geklim en plat op die agtersitplek gaan lê. Die bestuurder van die voertuig het vir Mariska gesê hy ken die man van geen kant af nie, hy het hom vir ‘n geleentheid gevra.
Intussen is daar vir hulp gevra op die noodradio’s en lede van die GPF het by die toneel opgedaag. Die verdagte het egter daarop aangedring dat die polisie na die toneel gaan. Die polisie het hom gearresteer en ondervra.
Volgens Mariska is hulle ook na die stasie om verklarings af te lê en uitkennings te doen. Die verdagte het eers ontken dat dit hy was, maar het later die aand skuld erken.
Die verdagte se familie het glo vir die polisie gesê dat hy ‘n probleemkind is en dat sy familie niks met hom te doen wil hê nie, want hy is ook met dwelms deurmekaar. Hy is 22 jaar oud.
Mariska bedank Lephalale polisie sowel as die GPF vir hulle vinnige optrede en die positiewe arrestasie wat gedoen is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.