Verdrinkingvoorkoming realiteit

DSCN7380-(1024x768)

Leoni Kruger
LEPHALALE — Rina van Schalkwyk, Lephalale se eie Mrs. Grand South Africa 2016 sê sy het ‘n besige paar maande vol opwinding en harde werk agter die rug, maar dit was alles die moeite werd, want uiteindelik is een van haar vele drome nou realiteit. Dié droom, naamlik die stig van ‘n nie-winsgewende organisasie – Die Reinhardt Drewel Foundation SA (RDFSA) in Oktober 2015, is in Februarie vanjaar geregistreer (Reg NPC 2016/068951/08). Hulle het ook ‘n mediese vennootskap met ER24 en ‘n verdrinkingsvoorkomingsvennootskap met Lewensredding SA gesluit.
Rina sê sy het ER24 genader met haar konsepidee van “Drowning Prevention Buddy Bucket” wat fokus op die voorkoming van die verdrinking van peuters, kleuters en laerskoolkinders. Die idee behels die druk van waterveiligheidsreëls en basiese KPR- noodhulpinstruksies op strandemmertjies. Dié emmertjies word aan kinders uitgedeel.
Rina sê na maande se beplanning saam met verskeie rolspelers is die eerste verdrinkingvoorkomingsveldtog, naamlik die “Buddy Bucket Drowning Prevention Campaign 2016” die afgelope naweek van 19 Maart in Randburg geloods.
RDFSA en ER24, saam met Lifesaving SA se 12 jong lewensredders (ouderdomme 10 – 18) was Saterdag 19 Maart baie bedrywig met die uitgee van sowat 260 emmers aan kinders by die Beyers Naude rylaan op die N1-snelweg. Die verslaggewers van Jacaranda 94.2 se Jacanews het ook met Rina ‘n onderhoud gevoer.
Rina sê sy beplan nog verdrinkingbewusmaking- en voorkomings-veldtogte, maar die volgende twee sal fokus op tieners en studente. Sy gaan die veldtog ook in Lephalale voortsit met besoeke aan en uitdeel van emmers by kleuter- en laerskole. Hulle is ook betrokke by die Medupi kontrakteursgholfdag op 16 April. “Daar gaan op die 15de putjie ‘n naaste aan die pen-kompetisie wees en die opbrengs gaan geskenk word vir verdrinkingbewusmaking en om kinders by te staan wat gestremd is as gevolg van ‘n nie-fatale verdrinking” sê sy.
Die RDFSA is die eerste nie-winsgewende organisasie in Suid-Afrika wat fokus op die voorkoming en bewusmaking van verdrinking en hulp aan gestremde kinders (as gevolg van nie-fatale verdrinking).
Skakel Rina by 084 414 4892 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.