Verkiesing in VW

VAALWATER — Verkiesingsdag in Vaalwater het goed verloop en teen 10:00 het die meeste stempunte al ʼn hele klomp gretige kiesers gehelp om te stem.
Konst. Simon Makhuvele van Vaalwater Polisie het vir Mogol Pos gesê dat hulle baie gelukkig is en nooit regtig voorheen enige negatiewe insidente tydens verkiesings gehad het nie. “Dit blyk dat die verkiesing vanjaar ewe vreedsaam gaan verloop” het hy gesê. “Die inwoners van die dorp was baie bedrywig die paar dae voor die verkiesing, maar geen vooraf insidente rakende verkiesingsintimidasie of aggressie is gerapporteer nie” het hy verder gesê.
Sommige lede van die African National Congress (ANC) het anders oor die situasie gevoel en Lucy Moruwe, die ANC se wykskandidaat vir Wyk 3 in Vaalwater het gesê sy voel haar kiesers word deur lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) geïntimideer. Die ANC het ook T-hemde aan potensiële kiesers uitgedeel kort voordat hulle hul kruisies by Mokolo Laerskool moes gaan trek. “Ek weet dat ons reeds gewen het en dat geen ander politieke party ons gaan onderkry nie. Ek is positief oor die kiesers wat ons ondersteun,” het Moruwe aan die koerant gesê.
“Ons het nog geen probleme ondervind vandag nie, maar ek is baie kwaad oor die ANC wat besig is met ʼn verkiesingsveldtog op stemdag. Hulle weet mos dat hulle nie T-hemde op stemdag mag uitdeel nie. Hulle lede is ook heeltemal te naby aan die stembusse,” het William (Bravo) Monyela, die EFF se gunsteling kandidaat vir Modimolle Munisipaliteit, gesê.
“Ek het reeds voor agtuur my kruisie getrek en voel tevrede oor die diens wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gelewer het. Daar was geen probleme nie en die ry het vinnig vorentoe beweeg. Ek hoop van harte dat alle Suid-Afrikaners vandag kophou en stem vir ʼn party wat ʼn verskil kan maak,” het die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat vir Vaalwater in Wyk 1, Marlene van Staden, gesê.
Geen kandidaat van die VF+ (Vryheidsfront Plus) het in Vaalwater se wyk 1 of 3 gestaan nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.