Verkope van “bosvleis” neem toe

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar is by die vergadering van die landelike veiligheidsforum (LVF) verlede Donderdag gesê dit is aangemeld dat mense in die omgewing van Steenbokpan vleis uit voertuie verkoop.
Daar word vermoed dat hierdie vleis wat verkoop word, die vleis is van diere wat in strikke gevang is.
Die dag nadat bogenoemde kwessie aangemeld is, is 100 strikke in die veld afgehaal.
Die eienaars van veral wildplase het tydens die vergadering bevestig dat stropery onder wild toeneem. Die term “bush meat” word gebruik om die vleis te adverteer en die kopers hou blykbaar veral van wildsvleis omdat hulle die horings en pote kan verkoop, wat weer vir hulle ‘n ekstra inkomste is.
Volgens Marius Fuls van Ferroland, is die manier hoe strikke opgestel is asook die materiaal wat gebruik word en hoe die knope gemaak is, meesal soos ‘n vingerafdruk van die stroper.

“Elke groep stropers het hul eie unieke manier hoe hulle strikke maak en opstel” sê hy. Hy het wildboere aangemoedig om strikke te bêre – “bou jou interne inligting, jy kan moontlik later ‘n soortgelyke strik kry wat vir jou waardevolle inligting oor die moontlike wilddief kan gee”.

Wildboere is ook gemaan om op die uitkyk te wees vir sianiedvergifting van diere by watergate. “Die wilddiewe gooi sianied in die watergate, want dit maak die dier dood, maar die vleis kan nog gebruik word” is daar gesê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.