Vermeende renosterstropers

Rhino-poachers

Leoni Kruger
HOOPDAL — Vermeende renosterstropers en huisbrekers is op 25 Februarie in Hoopdal gearresteer. Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, het veldwagters in Marakele Nasionale Park inligting ontvang dat daar vyf verdagtes (vermeende renosterstropers) in die veld is. Lede van die Heritage Protection Group (HPG), Marakele veldwagters en die plaaslike gemeenskap het spore opgevolg en twee van die verdagtes is gearresteer en een noodlottig gewond.
Die twee verdagtes wat gearresteer is het in Rustenburg gewoon tydens die voorval, maar volgens a.o. Mokoena, is beide Mosambiekse burgers. Justice Dila (42) en Mathews Nyamunba (42) het Maandag in Thabazimbi se Landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 17 Maart 2016.
A.o. Mokoena sê Nyamunba was voorheen ook betrokke by huisbraaksake in Modimolle, Mookghopong en Bela-Bela. Hy het Maandag verskeie gesteelde items en tonele aan die polisie uitgewys en volgens a.o. Mokoena is hy Dinsdag vanaf Hoopdal na Modimolle oorgeplaas.
Die ander twee verdagtes is steeds op vrye voet en a.o. Mokoena sê daar word vermoed dat hulle die wapens gedra het. Al wat by die twee gearresteerdes gevind kon word, was ‘n rugsak en ‘n saag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.